Mkhize se rassekriteria met aanstellings is ‘n resep vir verdere rampspoed

2020-11-02
Philip van Staden

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, se siening dat ras van die kriteria is wat in ag geneem moet word met die aanstellings of bevorderings van mediese spesialiste in staatshospitale, is niks anders nie as ‘n volgehoue resep vir verdere rampspoed in die openbare gesondheidstelsel.

Die VF Plus verwerp hierdie stelling van Mkhize wat hy gemaak het in antwoord op ‘n parlementêre vraag of berigte waar is dat hoogs gekwalifiseerde mediese spesialiste vir poste by staatshospitale en ander geriewe in KwaZulu-Natal afgekeur word omdat hulle nie voldoen aan die vereistes vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging nie.

Met die tekort aan medici wat lank reeds ‘n probleem in die openbare gesondheidstelsel is en wat aanleiding gegee het tot die ineenstorting van openbare gesondheid in Suid-Afrika, is dit nie die roete om verder te volg om mediese kundiges op grond van hul ras aan te stel nie. Die minister en die regering moet eerder kyk na ondervinding en kwalifikasies en nie kleur nie. Voordat dit gebeur, sal openbare gesondheidsorg nie normaliseer nie.

Die VF Plus is oortuig daarvan dat die struikelblok in openbare gesondheid nie ‘n gebrek aan geld is nie, maar eerder aan kundigheid. Die regering se obsessie met transformasie beteken dat kundigheid op hierdie manier steeds uitgedryf word. Die gevolg is dat daar medici is wat eerder in die buiteland gaan werk of tuis sit en nie werk in Suid-Afrika kan bekom nie, terwyl Kubane ingevoer word om in staatshospitale en klinieke te kom werk.

Samewerking tussen die openbare- en private gesondheidsektore moet bewerkstellig word, sodat kundigheid en geriewe gekombineer kan word. Die rigsnoer mag nie transformasie wees nie, maar goeie en toeganklike gesondheidsorg vir almal.

Die groot tekort aan dokters en verpleegsters wat tans bestaan, is ‘n duidelike bewys dat die regering se beleid van regstellende aksie nog nooit suksesvol was nie en daarom het staatshospitale en klinieke ‘n ernstige tekort aan hierdie kundiges. Dit veroorsaak dat miljoene weerlose Suid-Afrikaners daagliks nie toegang tot voldoende mediese sorg het nie.


Navrae: 060 556 4347

 

PhilipVanStadenGesondheidRegstellendeAksie#ZweliMkhizeRassekriteria

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!