Mislukte landbouprojekte is ‘n remskoen vir landbou

2019-11-06
Tammy Breedt

(Deklarasie in die parlement: Begrotingsverslag - departement van landbou)

 

Mislukte en halfgebakte lanbouprojekte van die regering soos die Agriparke-projek, is ʼn remskoen vir georganiseerde landbou en een van die groot redes vir die mislukking van opkomende swart boere.

Suid-Afrika se boere is tans uitgelewer aan uiterste weersomstandighede en droogtes asook aan mislukte departementele projekte wat niemand in die landbousektor ophef of help nie.

Kommersiële landbouers moet ondersteun en beskerm word om die nodige werksgeleenthede te skep en uit te brei om sodoende volhoubare landelike ekonomieë te ontwikkel en om voedselsekerheid te bevestig.

Die fokus van die departement van landbou bly egter op onrealistiese projekte soos Agriparke wat goed lyk op papier, maar in die praktyk onuitvoerbare mislukkings is.

Tans het meer as 20% van huishoudings in Suid-Afrika nie voldoende toegang tot voedsel nie en daarom moet voedselsekerheid beskerm word deur kommersiële landbou te stimuleer en te ontwikkel.

Die nuwe saamgevoegde departemente van landbou, bosbou en visserye asook landelike ontwikkeling en grondhervorming, het nodig om behoorlike skakeling op nasionale, provinsiale en munisipale vlak te bewerkstellig om sodoende te verhinder dat projekte nie tussen die krake wegraak en ʼn teelaarde vir korrupsie word nie.

Hiervoor is dit belangrik dat verkrygingsprosesse korrek funksioneer dat wetgewing gehoorsaam word en veral om seker te maak dat die politieke wil daar is om nodige veranderinge teweeg te bring en van projekte ʼn sukses te maak.

Groot drome kan wel gedroom word, maar as die regte en soms ongewilde besluite nie geneem word nie, gaan Suid-Afrika se mense altyd honger ly.


Kontaknommer: 082 490 6663

 

TammyBreedtLandbouVoedselsekerheid

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!