Misdaadgolf spoel oor Suid-Afrika

2022-11-23
Dr Pieter Groenewald

Die polisie se jongste misdaadstatistiek wys dat ʼn misdaadgolf oor die land spoel. Elke kategorie misdaad het skerp toegeneem teenoor die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Die statistiek vir die tweede finansiële kwartaal van die jaar (Julie tot September 2022) is vandag bekend gemaak.

Kontak- en seksuele misdaad het binne ʼn jaar met gemiddeld 14,75% toegeneem terwyl daar ook ʼn skerp toename was in die gevreesde trio-misdade.

Trio-misdade sluit in roof met verswarende omstandighede of gewapende roof (op met 22% teenoor 2021), roof by woonhuise (8,4%) en motorkapings (23,6%).

Alhoewel al die kategorieë misdaad skerp gestyg het, was die grootste toename in roof (25%), roof met verswarende omstandighede (22%), gepoogde seksuele misdrywe (34%) en motorkapings (23,6%).

Die skerpste styging was in vragmotorkapings met 36,8%.

Hierdie syfers verdwerg bykans die styging van 13,6% wat moord aanbetref wat dit nou die hoogste aangetekende moordsyfer sedert 2011 maak.

Moorde in Suid-Afrika het die afgelope drie jaar in dié tydperk toegeneem van 5 107 (Julie tot September 2020), 6 163 (2021) en nou 7 004.

Daar word tans 12 mense uit elke 100 000 van die bevolking vermoor. Dit is 79 mense per dag uit ʼn bevolking van 60 miljoen.

Vir die laaste twee kwartale vanjaar staan die moordsyfer reeds op 13 428. Dit beteken daar is ʼn goeie kans dat meer as 26 000 moorde in hierdie finansiële jaar aangeteken gaan word.

In vorige jare was die tendens deurgaans dat net sommige misdaadsoorte sou styg en ander afneem.

Dit het dit moontlik gemaak om probleemgebiede te identifiseer waar skerp stygings was waaraan spesiale aandag gegee kon word.

Dit is nou duidelik dat die situasie ingrypend verander het en dat die polisie oor die totale spektrum besig is om die stryd teen misdaad te verloor.

Die minister van polisie, Bheki Cele, is die persoon wat hieroor moet antwoord.

Die VF Plus het ook bedenkinge oor die misdaadstatistiek. Die ouditeur-generaal (OG) het reeds hierdie jaar bevind dat die syfers wat in die kwartaallikse statistiek bekend gemaak word, nie korrek is nie.

Die rede hiervoor is dat die statistiek nie gekorreleer kan word met die aantal misdaaddossiere nie. Dit gebeur baie dat mense misdrywe aanmeld, maar nie eens ʼn saaknommer ontvang nie.

Die statistiek wys dat die polisieminister Bheki Cele toenemend besig is om die stryd teen misdaad te verloor. Misdaad is buite beheer.

 

PieterGroenewaldMisdaadstatistiek

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!