Minister van gesondheid kan nie antwoord op VF Plus-vraag in parlement

2019-09-11
Philip van Staden

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, kon vandag in die parlement nie antwoord op ‘n vraag van die VF Plus oor waarom al Gauteng se staatshospitale en klinieke nie hul veiligheidsoudits kon slaag nie.

Die minister kon net antwoord dat hy nie ‘n volledige verslag oor die aangeleentheid het nie en dat hy later op die VF Plus se vraag sal antwoord.

Die VF Plus vind die antwoord van die minister kommerwekkend. Die probleem is reeds einde verlede maand uitgewys nadat die LUR vir gesondheid in Gauteng bekend gemaak het dat elf geriewe wat geoudit is, nie aan die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid voldoen het nie.

Die minister sit met ‘n groot probleem in sy departement en dit is duidelik dat hy geen beheer het oor wat in die departement en veral in die onderskeie provinsies aangaan nie.

Die ontoereikende oudits dien as bewys dat openbare gesondheidsgeriewe nie die verhoogde las wat die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) daarop sal plaas, sal kan hanteer nie en daarom sal die NGV misluk.


Kontaknommers: 060 556 4347 / 065 801 7216

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!