Minister se houding teenoor ernstige vrae van VF Plus dui op onbevoegdheid en ongeërgdheid

2019-12-03
Dr Pieter Groenewald

Die minister van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (CoGTA), Nkosazana Dlamini Zuma, se ongeërgde houding op parlementêre vrae van die VF Plus oor ernstige aangeleenthede, is skokkend en ʼn ontduiking van haar wettige pligte teenoor die parlement en die mense van Suid-Afrika.

Van die vrae is reeds sedert verlede jaar onbeantwoord en die minister steur haar bloot nie aan die pogings van die VF Plus om deur opvolgvrae antwoorde te kry nie.

Ministers moet in terme van reël 145(5)(a) binne tien dae antwoord op skriftelike vrae. Indien ‘n minister om ʼn sekere rede nie betyds kan antwoord nie, moet hy die Speaker nader om uitstel van ‘n maksimum van tien dae.

In terme van reël 146(1) mag ‘n parlementslid wie se vraag ná verstryking van die tien dae of ʼn verdere uitsteltydperk van tien dae, steeds nie beantwoord is nie, versoek dat sodanige onbeantwoorde vrae omgeskakel word na ‘n mondelinge vraag in die parlement.

Die probleem daarmee is egter dat partye nie so gereeld die geleentheid kry om mondelinge vrae te stel nie. Die reëls rakende mondelingse vrae verbied ook die stel van mondelinge vrae wat baie onderafdelings het, of wat baie statistiek verlang.

Voorts bepaal reël 146(3) dat die interne vraelys dienooreenkomstig genoteer moet word indien enige vrae nie binne die gestelde tydperk beantwoord is nie en die Speaker moet dan ‘n verslag met besonderhede van al dié onbeantwoorde vrae aan die adjunk-president voorlê vir verdere optrede.

Die VF Plus se ondervinding is egter dat ministers, soos in hierdie geval, vrae nie beantwoord nie sonder enige gevolge. Die reëlskomitee het twee jaar gelede aanbeveel dat ‘n sub-komitee uit sy geledere aangestel word, wat in samewerking met die Speaker met ministers moet skakel om die beantwoording van vrae te bespoedig.

Die nasionale vergadering het dit goedgekeur, maar die reëlskomitee het nooit amptelik die sub-komitee aangestel nie en die aangeleentheid het ook nooit weer op die komitee se agenda verskyn nie.

Wat die huidige vrae betref, het mnr. Wouter Wessels reeds op 13 November 2018 ʼn vraag gevra oor aftrekkings wat munisipaliteite namens sy personeel moet doen aan derde partye soos byvoorbeeld SARS en die pensioenfonds.

Dit word of glad nie gedoen nie, of die geld word verduister nadat dit afgetrek is en word nie oorbetaal nie. Die bewering is dat daar moontlik sindikate aan die werk is wat die geld verduister. Die situasie is só erg dat werknemers in sommige gevalle nie met pensioen kan gaan nie aangesien hul aftrekkings nooit oorbetaal is nie.

Geen antwoorde word hierop verskaf nie en die minister se antwoord is telkens bloot dat ʼn antwoord sal volg. Die betrokke vraag spreek baie ernstige klagtes aan, wat definitief die minister se dringende aandag verg. Dit blyk egter dat sy nie veel erg daaraan het nie.

ʼn Vraag van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, oor die hoeveelheid vuurwapens en ammunisie wat by die verskillende metro-polisie-eenhede in die land gesteel is of verlore geraak het, is reeds twee keer gevra sonder enige antwoord. Die eerste vraag was op 23 Augustus 2019.

Mnr. Michal Groenewald het onder meer gevra oor raadslede wat in gebreke bly om vir dienste te betaal. Ook hier het die minister dieselfde niksseggende antwoord gegee.

Dit duidelik dat die minister besef alle onbeantwoorde vrae sal na 13 Desember 2019 in ‘n verslag aan die Speaker gerapporteer word en sy antwoord dus bloot dat die inligting nie geredelik beskikbaar is nie en dat dit verskaf sal word wanneer dit beskikbaar is.

Tegnies word dit as ʼn antwoord beskou en die vrae word dan deur parlement as afgehandel genoteer en nie in die Speaker se verslag gemeld nie.

Soos duidelik gesien kan word, is die vrae oor ernstige sake. In hierdie geval wys die minister met haar optrede dat sy nie verantwoordbaar is nie en daarom onbevoeg is vir haar pos as minister.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216

DrPieterGroenewaldCoGTANkosazanaDlaminiZuma

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!