Minister Cele moet sê of plaasmoordslagoffer verdien het om gemartel te word

2020-10-02
Jan van Niekerk

Die moord op ‘n plaasvoorman, Brendin Horner (21), is bewys dat die regering se landelike beveiligingsplan faal.

Horner is gisteraand gemartel en vermoor op die plaas De Rots naby Paul Roux in die Vrystaat.

Bheki Cele het onlangs die stelling gemaak dat ‘boere nie moet kla as hulle seerkry nie’ en het gesuggereer dat dit die slagoffers van plaasaanvalle se eie toedoen is dat hulle teikens van hierdie geweldsmisdaad is.

Die VF Plus het hierdie stelling en die houding van die minister as aanhitsing tot geweld bestempel.

Die sinnelose, wreedaardige moord op Horner word ten sterkste veroordeel en die VF Plus vereis ‘n antwoord van die minister of Horner wel verdien het om só te sterf. Die VF Plus eis verder dat die vermeende moordenaars so gou as moontlik vasgetrek word.

Plaasaanvalle- en moord is buite beheer en kan nie as gewone misdaad beskou word nie, veral in ag genome die wreedheid wat daarmee gepaard gaan.

Die VF Plus is van mening dat hierdie misdaad slegs effektief bekamp sal word indien die regering eerstens die erns daarvan erken, dit tot ‘n prioriteitsmisdaad verklaar en spesialiseenhede getaak met landelike beveiliging op die been bring.

Die VF Plus doen opnuut ‘n beroep op die landbougemeenskap om betrokke te raak by plaaslike veiligheidsstrukture en moedig boere aan om hulself te beveilig en te verdedig.

Die VF Plus veroordeel ook die toenemende anargie in landelike gebiede ten sterkste en spreek sy innige simpatie en medelye toe met die familie en vriende van die slagoffer.


Navrae: 083 743 2042

 

VrystaatJanVanNiekerkPlaasmoordeBhekiCele

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!