Mense van Vrystaat ly terwyl Lesotho meer as R61 miljoen aan provinsiale departement van gesondheid skuld

2021-06-10
Armand Cloete

Die Lesotho-regering skuld die Vrystaatse departement van gesondheid vir etlike jare reeds miljoene vir Lesotho-burgers wat in die provinsie behandel word.

Tydens ‘n portefeuljekomiteevergadering oor gesondheid in die Vrystaatse Wetgewer, het die departement aangedui dat dié buurland R61 miljoen aan die gesondheidsdepartement skuld.

Die bedrag wat Lesotho aan die provinsie vir die 2020/21-finansiële jaar verskuldig is, beloop meer as R29 miljoen.

Die VF Plus het die LUR vir gesondheid in die Vrystaat, Montseng Tsiu, in ‘n skriftelike vraag in die wetgewer gevra om aan te dui wat die departement doen om die agterstallige skuld van Lesotho te verhaal.

Die LUR moet ook aandui of daar ‘n ooreenkoms tussen Lesotho en die departement is om dié land se pasiënte te behandel en wat die ooreenkoms behels.

Die ANC se benadering tot Covid-19 en algemene swak bestuur, kniehalter die reeds-sukkelende gesondheidsdienste in die provinsie.

Inwoners van die Vrystaat kan nie bekostig dat gesondheidsorgdienste deur agterstallige skuld van ‘n ander land geraak word nie.

Daar kan nie toegelaat word dat ander lande se pasiënte met Suid-Afrika se belastinggeld behandel word nie.



ArmandCloeteVrystaatLesothoGesondheidsdienste

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!