Mediumtermyn-begrotingsraamwerk: Suid-Afrika in werklike finansiële krisis

2019-10-29
Wouter Wessels

Suid-Afrika sit in ʼn wesenlike finansiële krisis en alhoewel die mediumtermyn-begrotingsraamwerk ʼn belangrike geleentheid is om te herprioritiseer om huidige krisisse aan te spreek, sal dit niks doen aan die ware probleem van beleidsonsekerheid wat die maaksel van die ANC-regering is nie.

Van die probleme wat dadelik aandag sal moet kry, is die knellende droogte en toenemende waterskaarste in die land waar geld nodig is vir infrastruktuur soos damme en reservoirs. Geld is ook nodig vir hulp aan landbouers in droogte-rampgebiede.

Openbare ondernemings plaas ʼn groot en onnodige las op die fiskus. Dié ondernemings is tans net swart gate waarin belastinggeld sonder enige sigbare voordeel of verbetering verdwyn.

Die omkeerplan wat minister Pravin Gordhan vandag vir Eskom aangekondig het, sal geen onmiddellik effek op die huidige krisis hê nie. Die uitstaande skuld aan Eskom sal nie oornag betaal kan word nie aangesien munisipaliteite bankrot is.

Daar is geen ander oplossing as om Eskom te privatiseer en te dereguleer om sodoende toe te sien dat markkragte kan meewerk tot gesonde kompetisie en kragvoorsiening nie.

Beide die ministers van openbare ondernemings en finansies word gyselaar gehou deur hul party se ideologie, alliansievennote en vakbonde wat weier om in te stem tot ongewilde besluite wat geneem moet word om herstel te bewerkstellig.

Hierdie besluite behels onder meer die staat se salarisrekening, die aflegging van oorbodige personeel en ʼn moratorium op salarisverhogings asook privatisering en deregulering.

Die mag van die vakbonde oor die regering en die uitwerking daarvan op die ekonomie hou die hele Suid-Afrika gyselaar. Daar is ʼn werklike rigtingverandering nodig om aan hierdie doodloopstraat te ontsnap en die begrotingsraamwerk is die geleentheid om hierdie koersverandering teweeg te bring.

Dit is duidelik dat die minister min beweegruimte het om die begroting te balanseer. Dit raak ook duidelik dat daar ʼn stewige tekort aan belasting-inkomste gaan wees.

Groot ondernemings het bloot nie genoeg vertroue in Suid-Afrika om te belê om sodoende die belastingbasis te verbreed nie. Hierdie gebrek aan vertroue kan net deur beleidsekerheid herstel word en die ANC is duidelik nie in staat om dit te bewerkstellig nie.

 

Kontaknommers: 082 674 6670 / 065 801 7216

 

WouterWesselsEskomSALMediumtermynbegrotingsraamwerkBegroting

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!