Mediumtermyn-begroting: ANC-regering in skaakmat-posisie

2020-10-28
Dr Pieter Groenewald

Die harde werklikheid oor minister Tito Mboweni se meduimtermyn-begroting van vandag is dat die fiskus nie meer geld het nie en die minister se plooiery van die begroting is ʼn blote rondskuif van stoele op die dek van die Titanic.

Die minister is duidelik in ʼn skaakmat-posisie. Dit blyk uit die begrotingstekort wat nou reeds R770 miljard beloop. Die totale skuldlas van die regering beloop R3,9 biljoen rand (biljoen = miljard miljard). Dit gaan styg tot R5,8 biljoen teen die einde van die huidige finansiële mediumtermyn.

Net die dienstegeld op hierdie bedrag beloop tans R233 miljard per jaar wat na verwagting gaan styg tot R355 miljard per jaar teen 2023/24. Dit beteken die land het nie meer geld nie.

Die minister is met sy rug teen die muur en nou gee hy boonop R10,4 miljard wat vir plaaslike regering moes gaan, in die soveelste reddingspoging aan die SAL. Dit terwyl munisipale dienste landwyd haglik is. Mense het nie water nie en oral is sanitasieprobleme.

Die VF Plus sê daar kan nie meer geld aan die SAL gegee word nie. Die lugdiens is ʼn onbekostigbare luukse en moet nou geprivatiseer of selfs net weggegee word. Daar kan nie meer geld hierop vermors word nie.

Die staat se salarisrekening bly ʼn yslike probleem. Hier neem die minister nou R14,1 miljard van onderwys weg terwyl president Cyril Ramaphosa twee weke gelede aangekondig het daar gaan 200 000 nuwe poste in die onderwyssektor geskep word.

Dit maak nie sin nie. Waar gaan die geld gevind word vir die bykomende poste wat die president as deel van sy werkskeppingsprogram beloof het?

Dit is duidelik die minister en die regering is in ʼn skaakmatposisie en dit sal nie verander solank daar nie duidelike beleidsverandering aangebring word nie.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

FinansiesDrPieterGroenewaldTitoMboweni#MTBPS20202#MTBPS

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!