Mbombela-munisipaliteit gewikkel in bedrieglike grondtransaksie van R34 miljoen

2020-12-08
Ken Robertson

Die Vryheidsfront Plus het luitenant-generaal Bethuel Zuma, provinsiale polisiekommissaris van Mpumalanga, versoek om ‘n ondersoek te laat doen na moontlike ongerymdhede met ‘n grondtransaksie nadat die munisipaliteit van Mbombela 'n plaas van 161 ha naby Emjindini in Barberton, Mpumalanga vir R34 miljoen aangekoop het.

Volgens die VF Plus se inligting, het ‘n maatskappy verbonde aan ‘n ANC-parlementslid, die grond in 2012 van ‘n boer aangekoop vir R12 miljoen.

In 2017 is die plaas glo aan 'n maatskappy en kollega van die ANC-LP vir R15 miljoen verkoop wat dit nou na bewering aan die Mbombela-plaaslike munisipaliteit vir R34 miljoen verkoop het. Dit is R19 miljoen meer as wat in 2017 daarvoor betaal is.

Na bewering is die registrasiedatum vir die verkoop van die eiendom in 2017 en die herregistrasie vir die 2020-verkope daarvan, op dieselfde dag, naamlik 2020/09/18.

Die Mbombela-munisipaliteit het vrae rakende die uitgawes van die grondtransaksie na die provinsiale departement van menslike nedersettings verwys. Die VF Plus het nou ‘n geskrewe vraag gerig aan die premier van die Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, om vas te stel of die provinsie kennis dra van die transaksie.

Die VF Plus vermoed dat, ondanks die groot hoeveelheid geld wat aan die aankoop van hierdie grond bestee is, daar geen besluit vooraf deur die Mbombela-raad geneem is om die aankoop daarvan te finansier nie.

Die VF Plus in die raad sal navraag oor hierdie omstrede kwessie doen.

Die munisipaliteit se skuldlas aan diensverskaffers is baie hoog en die raad het nie die finansiële vermoë om buitensporige pryse vir grond te betaal nie.

Die gebruik van munisipaliteite om kunsmatige hoë pryse te betaal vir eiendomme wat aan kaders behoort, is misbruik van belastingbetalersgeld en die VF Plus sal nie rus tot hierdie saak tot op die been oopgevlek is nie.



MpumalangaBarbertonMbombelaKenRobertsonGrondtransaksie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!