Matrieks se Junie-eksamen afgestel: Beter om kurrikulum te dek as om baie vraestelle te skryf

2021-06-02
Dr. Wynand Boshoff

Die departement van basiese onderwys se aankondiging dat matrieks se Junie-eksamen vanjaar weer gekanselleer word, moet verwelkom word. Uit 'n opvoedkundige oogpunt is dit belangriker om die kurrikulum deeglik te dek as om 'n groter aantal vraestelle te skryf.

Onderwys word nou al vir langer as 'n jaar ontwrig. Vanjaar se matrikulante se graad 11-jaar is reeds ontwrig, terwyl die maniere waarop "beurte gemaak" moet word om skool by te woon, onderrigtyd verkort.

In sulke krisisomstandighede is daar soms 'n impuls om liewer op eksamenafrigting te fokus, as op onderrig. Dit word met hierdie stap vermy.

Die Nasionale Senior Sertifikaat is in Suid-Afrika van buitengewone belang, aangesien die integriteit daarvan beskerm word. Aangesien die gehalte van onderrig skerp tussen skole wissel, is die publiek huiwerig om interne eksamens se uitslae te vertrou.

In teenstelling daarmee word die Nasionale Senior Sertifikaat ekstern en sentraal geëksamineer.

Dit is ook hierdie ongelykheid wat die departement dwing om matrikulante voor te berei vir dit wat hulle in die eindeksamen kan verwag. Die Junie-eksamen word deur skole self bedryf, hoewel vraestelle in sleutelvakke sentraal voorsien word. Die Voorbereidende Eksamen in September se vraestelle word ekstern opgestel, maar deur skole self gemerk.

Die eindeksamen oorheers die formule vir die berekening van matrikulante se finale punt, maar ander eksamens speel 'n belangrike rol om hulle daarvoor voor te berei. Daarom kan dit nie ligtelik afgeskaf word nie.

Soos wat die VF Plus verlede jaar op aangedring het, kon sekere skole die grendelstaat so bestuur dat ontwrigting tot die minimum beperk is. Sulke skole kan selfs in staat wees om matrikulante ook hierdie Junie te eksamineer. Dit is belangrik dat skole alles doen wat hulle kan, om matrikulante so goed moontlik vir die eindeksamen voor te berei.

Indien die groter ondewysprentjie beskou word, is dit nogtans belangrik dat skole waar onderrig ontwrig is, eerder die totale leerplan dek, as om 'n bykomende vraestel te skryf. Daarom verwelkom die VF Plus hierdie besluit, as 'n toepaslike vorm van krisisbestuur.

Aan die ander kant moet skole wat die kurrikulum wel kon dek, beslis nie verhinder word om hierdie eksamen aan te bied nie.

 

 

DrWynandBoshoff#BasieseOnderwysMatrieksJunieEksamen

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!