Matlosana-munisipaliteit bring dringende hofaansoek teen grondbesetters na volgehoue druk van VF Plus

2020-09-11
Fanie Kloppers

Die Matlosana-plaaslike munisipaliteit (Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartebeestfontein) bring vandag ‘n dringende aansoek in die Mahikengse hooggeregshof teen grondbesetters wat sedert 2 September weer onwettige strukture by Stilfontein begin oprig.

Die VF Plus het onmiddellik in ‘n skrywe aan die burgemeester, M Kgaile, die speaker, Washington Ntozini, en die munisipale bestuurder, TRS Nkhumise, geëis dat dringende stappe geneem word om die grondbesetting stop te sit.

Die spesifieke gebied, wat lank reeds deur die grondbesetters geteiken word, is nie geskik vir enige vorm van behuising nie. Dit is geleë op dolomitiese grond waaroor ook ‘n Sasol-brandstofpypleiding loop. Daar loop ook ‘n hoofspoorlyn van Transnet oor die grond.

Na deurlopende druk op die munisipaliteit om daadwerklik op te tree, is ‘n spesiale raadsvergadering gehou op Donderdag, 10 September. Die VF Plus het tydens die vergadering dringende optrede geëis en beklemtoon dat mense nie toegelaat kan word om hulle in so ʼn onveilige gebied te vestig nie.

Die direkteur van beplanning en menslike nedersettings by die munisipaliteit, Benjamin Chauke, het daarop onderneem om die hooggeregshof met ‘n dringende aansoek teen die grondbesetters te nader.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die Matlosana-munisipaliteit om die prosesse te bespoedig om die voortslepende behuisingstekorte rondom Stilfontein volhoubaar aan te spreek.

Inwoners kan nie langer blootgestel word aan die voortdurende onsekerheid en leë beloftes van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit nie.


Navrae: 082 443 5569

StilfonteinFanieKloppers#MatlosanaMunisipaleitBehuisingPlakkerskamp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!