Matlosana-munisipale raad steun VF Plus se eis vir hersiening van munisipaliteit se halfjaarlikse verslag

2023-01-31
Annica Holtzhausen

Die VF Plus in die Matlosana-plaaslike munisipaliteit het vandag tydens ʼn raadsitting daarin geslaag om die munisipaliteit se halfjaarlikse prestasieverslag oor dienslewering, terug te laat verwys vir hersiening en dringende regstelling.

Hierdie verslag is veronderstel om die grondslag te wees vir die goedkeuring van ʼn halfjaarlikse aansuiweringsbegroting teen die einde van Februarie.

Die VF Plus het die aanvaarding van die verslag in die raad tot stemming laat bring nadat die party beswaar aangeteken het teen talle ooglopende wanvoorstellings en die gebrek aan die nakoming van die voorgeskrewe wetlike vereistes.

Die prestasie-rapportering aan die munisipale raad deur die munisipaliteit moet aan hierdie vereistes voldoen.

Die party het reeds tydens die 2022-begrotingsproses beswaar aangeteken teen die aanvaarding van ʼn onbefondsde begroting in die munisipaliteit.

Om nou ʼn verdere aansuiweringsbegroting op sterkte van ʼn onvolledige prestasie- en bestedingsverslag deurspek met feitefoute en wanvoorstellings goed te keur, sal verdere rampspoed vir die Matlosana-munisipaliteit verseker.

Die inwoners van Klerksdorp, Stilfontein, Orkney en Hartbeesfontein ly reeds lank onder onprofessionaliteit en gevolglike gebrek aan dienslewering van hierdie ANC-beheerde munisipaliteit.

Die VF Plus sal die situasie fyn monitor om te verseker dat sulke lakse optrede die munisipaliteit nie finaal oor die afgrond stoot nie.

Die inwoners van Matlosana verdien beter as die ANC.

MatlosanaAnnicaHoltzhausen#Hersiening

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!