Matjhabeng-waterkrisis: VF Plus dien klag by MRK in

2021-07-02
Armand Cloete

Die VF Plus het ‘n klag by die Menseregtekommissie (MRK) ingedien om ondersoek in te stel na moontlike menseregteskendings deur die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) waar inwoners gereeld sonder water is.

Volgens die ouditeur-generaal (OG) het die munisipaliteit in die 2019/2020-boekjaar soveel as 76% van sy water verloor weens lekkasies en onwettige aansluitings. ‘n Driekwart liter water gaan dus verlore vir elke liter water wat die munisipaliteit aankoop.

Intussen ly inwoners gereeld weens ‘n watertekort.

Die munisipaliteit se watervoorsiener, Sedibeng Water, het verlede jaar erken hy is tegnies bankrot, hoofsaaklik weens Matjhabeng se agterstallige skuld van meer as R3,6 miljard.

Sedibeng Water het ook aangedui dat herstelwerk wat tans aan reservoirs in Riebeeckstad gedoen word, grootskaalse watertekorte in dorpe in die munisipaliteit kan veroorsaak.

Dis onaanvaarbaar dat inwoners tydens die nuwe vlaag van Covid-19 en vlak 4-inperkings nie toegang tot water het nie.

Die MRK moet nou die ANC-geleide munisipaliteit se nalatigheid en wanbestuur ondersoek.

Die VF Plus doen ‘n beroep op die inwoners van Matjhabeng om seker te maak hulle is geregistreer om met die plaaslike verkiesing op 27 Oktober saam met die VF Plus op te staan, saam te staan en ‘n sterk boodskap aan die ANC te stuur dat gebrekkige dienslewering en die verval van munisipaliteite gestop moet word.



MatjhabengArmandCloeteWaterkrisismenseregtekommissie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!