Matjhabeng: Infrastruktuur op pad na ineenstorting

2020-06-26
Susan Taljaard

Dit het onder die VF Plus se aandag gekom dat onwettige aanbouery in die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom) plaasvind in ‘n poging om die studentebehuisingsprobleem op te los.

‘n Huis wat oorspronklik vir een gesin beplan en gebou is, word sonder die nodige beplanning aangepas om tot sowat 20 mense op een erf te huisves.

Waterlekke en rioolprobleme word dus direk deur hierdie onwettige aanbouery veroorsaak, omdat bestaande infrastruktuur geweldig oorlaai word sonder die nodige opgradering of instandhouding.

Inwoners van die munisipaliteit gaan ook gereeld gebuk onder kragonderbrekings weens toenemende kabeldiefstal en onwettige kragaansluitings. Misdadigers ry op betalende inwoners se rug en veroorsaak dat getroue inwoners hoër tariewe moet betaal.

Die VF Plus sal ‘n dringende vergadering met die waarnemende munisipale bestuurder belê om die onreëlmatighede binne die munisipaliteit aan te spreek.

Die VF Plus waarsku ook dat indien daar nie nou opgetree word nie, die bestaande infrastruktuur moontlike ineenstorting in die gesig kan staar.

Die party doen ‘n beroep op inwoners om enige onwettige aansluitings en aanbouery aan te meld.


Navrae: 082 886 9945

 

 

MatjhabengSusanTaljaardDiensleweringStudentebehuising

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!