Matjhabeng-burgemeester geskors

2020-04-09
Armand Cloete

Die skorsing van die burgemeester van die Matjhabeng-plaaslike munisipaliteit, Nkosinjani Speelman, moes lank reeds gebeur het.

Die VF Plus veroordeel die blatante rassisme van mnr Nkosinjani Speelman ten sterkste. Sy rassistiese verwysing na bruin mense is onaanvaarbaar en dra by tot rassepolarisasie.

Dit is betreurenswaardig dat die ANC ten tyde van die nasionale inperking krisisbestuur moet toepas om toe te sien dat basiese dienste aan inwoners gelewer word. Indien die regering die politieke wil gehad het om op te tree teen verkose amptenare wat nie hul werk doen of gehoor aan wetgewing gee nie en mense op grond van kundigheid en meriete aanstel, sou die poging om krisisbestuur toe te pas, nie nou nodig gewees het nie.

Te veel voorbeelde van amptenary wat wetgewing en regulasies oortree, gaan ongesiens verby. Daar behoort gevolge vir hierdie misdrywe te wees en daar moet konsekwent opgetree word teen amptenary en politici wat hulle hieraan skuldig maak.

Die VF Plus wil sien dat die voorbeeld wat van Speelman gemaak is, in talle ander wanfunksionele munisipaliteite óók plaasvind.

Die VF Plus beywer hom vir ‘n nuwe model van plaaslike regering, waar verantwoordbaarheid, kundigheid en meriete die norm is en waar dienslewering van goeie gehalte aan inwoners voorsien word.


Kontaknommer: 079 629 6219

MatjhabengArmandCloeteBurgemeesterNkosinjaniSpeelman

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!