Matjhabeng: ANC stel partylede bo inwoners en dienslewering

2020-08-07
Susan Taljaard

Die VF Plus neem kennis dat die burgemeester van die Mathjabeng-plaaslike munisipaliteit (Allanridge, Hennenman, Odendaalsrus, Ventersburg, Virginia, Welkom), Nkosinjani Speelman, se appèl geslaag het en dat hy in sy pos sal aanbly.

Speelman is vroeër skuldig bevind aan rassistiese uitlatings teenoor weermaglede wat in die munisipaliteit tydens die grendelstaat ontplooi is.

Die ANC se nasionale appèlkomitee bewys weereens dat die party nie daartoe verbind is om sy eie verkose lede verantwoordelik te hou vir hul optrede en uitlatings nie.

Dienslewering onder Speelman is die swakste ooit en Mathjabeng is die ANC se grootste mislukking wat dienslewering en munisipale bestuur in die Vrystaat aanbetref.

Matjhabeng verdien ‘n munisipaliteit wat sy wetlike verpligtinge nakom en kwaliteit diens aan inwoners lewer.

Speelman het reeds bewys dat hy nie die mas in die verlede kon opkom nie en die VF Plus betwyfel dit of hy in die toekoms sukses sal behaal.

Die VF Plus het reeds in ‘n skrywe aan die Vrystaatse LUR vir samewerkende regering, Thembeni Nxangisa, geëis dat sy departement dringend in dié munisipaliteit ingryp om dienslewering te verbeter en om toe te sien dat ‘n munisipale bestuurder aangestel word.


Navrae: 082 886 9945 / 076 629 6219

 

 

MatjhabengSusanTaljaardBurgemeester#NkosinjaniSpeelman

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!