Mabuza planloos oor redding van sukkelende munisipaliteite

2019-09-12
Armand Cloete

Die ANC het nie meer antwoorde op die land se sukkelende munisipaliteite nie. Dit is duidelik uit antwoorde deur die adjunk-president, David Mabuza, op ‘n vraag van die VF Plus tydens ‘n sitting van die Nasionale Raad van Provinsies (NRP).

Die VF Plus wou weet wat die adjunk-president doen om munisipaliteite wat onder Artikel 139-administrasie geplaas is, te verbeter.

Die minister se antwoorde op die ANC se verskeie programme, waaronder sy eie rol van ondersteuning aan die president om diensleweringprobleme aan te spreek, dien as bewys dat die ANC se planne opgeraak het.

Mabuza, wat in die vorige bestel deel was van protesaksies téén dienstegelde vir armes, se antwoord was dat inwoners hul rekening moet betaal.

Die adjunk-president was egter vaag oor hoe hy munisipaliteite gaan ondersteun waar inwoners, wat voorheen gratis water en elektrisiteit gekry het, nou weier om amptenare toe te laat om meters te installeer sodat hulle ook vir dienste betaal.

Solank die ANC nie die politieke wil het om munisipaliteite te red nie, sal intervensie onder die ANC nie suksesvol wees nie.

Beide die Masilonyana-plaaslike munisipaliteit (Brandfort, Soutpan, Theunissen, Verkeerdevlei en Winburg) en Mafube-plaaslike munisipaliteit (Cornelia, Frankfort, Tweeling en Villiers), is reeds 31 maande onder administrasie. Die ANC kon nie daarin slaag om die munisipaliteite te verbeter nie.

In Brandfort is daar gereeld watertekorte, ‘n gebrek aan chemikalieë om water te suiwer en ‘n suiweringsaanleg wat nie werk nie. In Mafube is daar weens wanbetaling beslag gelê op vullisverwyderingsvoertuie.

Die probleme het ontwikkel gedurende intervensies wat veronderstel is om diensleweringsprobleme te behandel. By beide munisipaliteite het die administrateurs, wat deur die provinsiale regering aangestel is, nie by raadsvergaderings opgedaag nie.

Die ANC het geen ander keuse nie as om van korrupte burgemeesters, rade en amptenare ontslae te raak nie.

Inwoners se regte tot dienste word misken onder die regerende party en die VF Plus sal aanhou terugslaan teen die ANC se gebrek aan werkbare planne om munisipaliteite te red.


Kontaknommer: 076 629 6219

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!