Lesufi se planne: oorvol skole in Gauteng kan lei tot nog ‘n Driehoek-tragedie

2019-11-22
Adv Anton Alberts

Die VF Plus wil ʼn waarskuwing rig aan die Gautengse onderwysdepartement en onderwys-LUR, Panyaza Lesufi, dat planne om meer leerlinge in skole in te neem terwyl daar nie behoorlike oudits gedoen is van skole se infrastruktuur nie, kan lei tot nog ʼn Driehoek-tragedie of self erger.

Die VF Plus het deur vorige vrae aan die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, vasgestel dat daar nie behoorlike kontrole is met die inspeksie van skole se infrastruktuur nie en dat daar dus nie voldoende inligting beskikbaar is oor die veiligheid van skole nie.

Dit plaas ʼn vraagteken oor die veiligheid van skoolgaande kinders. Die VF Plus sal verdere vrae in hierdie verband aan die provinsiale onderwysdepartement vra oor die aantal inspeksies wat tot nou toe gedoen is, wat die bevindings was en hoe opgetree is waar bevind is skole is onveilig.

Die VF Plus se vermoede is dat hierdie inspeksies nie gereeld plaasvind nie. Die geskiedenis van inspeksies by die Hoërskool Driehoek het gewys dat inspeksies ongereeld en oppervlakkig gedoen word.

Inspeksies word eerder misbruik om klasgroottes te bepaal sodat vasgestel kan word hoeveel bykomende leerlinge daar ingedruk kan word om skole te verengels. Dit is belangrik om daarop te let dat die taal by ʼn skool steeds bepaal word deur die beheerliggaam en nie deur die departement nie.

Inspeksies is duidelik politiek-gedrewe en nie ingestel op die veiligheid van leerlinge nie. Die VF Plus sal deur vrae vasstel hoe veilig skole werklik is en sal toesien dat die grondwetlike vereistes oor die aantal leerling per klaskamer toegepas word.

Die VF Plus sal die proses dryf om antwoorde te verkry oor die veiligheid van skole en sal toesien dat die regte riglyne oor leerdergetalle per klaskamer nagekom word.

Kontaknommer: 082 391 3117

 

 

AntonAlbertsLesufi

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!