Lesufi moet eerder fokus op Sedibeng se vervalle infrastruktuur

2022-11-16
Hein van der Lith

Die premier van Gauteng, Panyaza Lesufi, se plan om alle ongeteerde paaie in die Sedibeng-distriksmunisipaliteit se townships te teer, is onrealisties.

Benewens die feit dat hierdie gebiede ʼn swak betalingsrekord het vir dienste wat oor jare gelewer is, moet Lesufi eerder fokus om Sedibeng se noodsaaklike infrastruktuur te herstel.

Die plaaslike munisipaliteite van Emfuleni, Midvaal en Lesedi val onder die Sedibeng-distriksmunisipaliteit.

Aandag moet gegee word aan ondergrondse riool- en waterpypleidings, transformators, substasies en die onderhoud en herstel van bestaande paaie wat besaai is met slaggate.

Riool vloei al vir jare in die strate van dorpe en in die Vaalrivier weens wanadministrasie.

Die daaglikse agteruitgang van dienslewering het die Vereeniging-sakekamer genoop om sy lede onlangs aan te moedig om die helfte van hul dienstegeld terug te hou.

Ondernemers is van mening dat indien hulle nie dienste ontvang waarvoor hulle betaal nie, hulle nie ten volle daarvoor hoef te betaal nie.

Indien die situasie voortduur, kan ʼn groter werkloosheidsyfer verwag word weens ondernemings wat noodgedwonge hul deure moet sluit of na buurdorpe verhuis.

Daar is ook reeds begin met die vorige premier, David Makhura, se Vaal River City-projek wat verdere druk op munisipaliteite se verouderde infrastruktuur gaan plaas.

Dié ontwikkeling sal 400 000 vierkante meter kommersiële kantoorruimte behels, ʼn kleinhandel- en ontspanningskomponent van 60 000 vierkante meter, 20 hektaar se parkgebied wat ʼn voëlskuiling sal insluit en 5 000 wooneenhede.

Lesufi moet in gedagte hou dat dié nuwe ontwikkeling se rioolpype ná voltooiing aan ʼn ou stukkende pypleiding gekoppel gaan word wat daartoe kan lei dat mense wat daar woon en werk, gou rioolprobleme kan ervaar.

Die huidige kragnetwerk sal ook nie in staat wees om ook die ontwikkeling se ligte aan te hou nie.

Lesufi moet eerder sy energie bestee aan die opheffing van die Sedibeng-distrikmunisipaliteit tot voordeel van almal wat daar woon en werk. Hy moet hom weerhou van onrealistiese beloftes wat nie uitgevoer gaan word nie.

LesufiSedibeng#vervalleinfrastruktuur

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!