Die Lesedi-plaaslike munisipaliteit (Devon, Heidelberg, Nigel, Vischkuil) se jaarverslag skets ʼn donker prentjie van ʼn munisipaliteit wat besig is om vinnig agteruit te boer.
Die algemene jaarverslag wat tydens ʼn raadsvergadering voorgelê is, lewer ʼn in-diepte verslag van die benarde finansiële situasie waarin Lesedi hom tans bevind.
Die VF Plus is veral bekommerd oor die 29% elektrisiteit- en 40% waterverliese gedurende die 2021/22-finansiële jaar.
Die verliese is weens kragdiefstal, oorbrugging van elektrisiteitsmeters en kabeldiefstal.
Nog ʼn kwelpunt is dat die munisipaliteit slegs 5% van die begroting aan instandhouding van straatligte en die herstel van slaggate en infrastruktuur bestee het.
Sanitasie in die landelike gebiede is steeds ʼn uitdaging waar inwoners gedwing word om puttoilette op te rig. Hierdie strukture is onhigiënies en veral gevaarlik vir kinders.
Die munisipaliteit het in sy 2021/2022-boekjaar voorsiening gemaak vir die oprigting van 400 geventileerde puttoilette. ʼn Totaal van 283 is reeds opgerig. Die aantal toilette is egter nie genoeg vir die aanvraag nie.
Die munisipaliteit kon verlede jaar vir die eerste keer in vyf jaar nie sy Eskom- en Randwater-rekening binne 30-dae betaal nie.
Die situasie plaas ʼn verdere finansiële las op die munisipaliteit omdat die uitstaande bedrag met rente betaal moet word.
Die raad se kontantvloei-probleem wat na die Covid-19-pandemie ondervind word, kon nog nie ingehaal word nie.
Die enigste oplossing is om die ANC-regering by die volgende verkiesing te verslaan. Lesedi se inwoners verdien beter as die ANC.