Lepelle Northern Water straf Ba-Phalaborwa met minder water

2023-03-22
Marcelle Maritz

Die Lepelle North Water (LNW) het aangekondig dat die Ba-Phalaborwa-plaaslike munisipaliteit (Phalaborwa) net 20% van sy normale water sal ontvang vanaf 21 Maart weens agterstallige skuld.

Ba-Phalaborwa verskaf nie self water aan sy inwoners nie. Die Mopani-distriksmunisipaliteit vervul daardie funksie en moet die LNW se waterrekening vereffen.

Ba-Phalaborwa vorder wel inwoners se waterrekeninge in, maar betaal die geld oor aan die distriksmunisipaliteit.

Die ANC beheer beide hierdie munisipaliteite.

In die kennisgewing dui die LNW aan dat beperking in waterverskaffing opgehef sal word sodra die uitstaande skuld vereffen is of ʼn afbetalingsooreenkoms bereik is.

Luidens ʼn skrywe van die direkteur-generaal van die departement water en sanitasie, dr. Sean Phillips, het die Mopani-distriksmunisipaliteit teen 31 Januarie 2023 die LNW R257 miljoen geskuld.

Volgens hom betaal die distriksmunisipaliteit geen ou of nuwe skuld nie en kom ook nie sy afbetalingsooreenkoms na nie.

Hierdie is nie die eerste keer dat inwoners van Phalaborwa gestraf word met watertekorte weens die Mopani-distriksmunisipaliteit se wanbetaling van sy waterrekening nie.

In Mei verlede jaar het inwoners opgeruk toe waterverskaffing aan Phalaborwa ook tot 20% verminder is. Waterverskaffing is herstel nadat Mopani ʼn deel van sy waterskuld vereffen het.

Die VF Plus het in ʼn dringende skrywe aan Ba-Phalaborwa se waarnemende munisipale bestuurder, dr. Kgoshi Lucas Pilusa, sy kommer uitgespreek oor die verloop van sake en het dringende optrede geëis.

Die party wil ook weet of die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit getrou inwoners se betalings vir water aan Mopani oorbetaal word en hoeveel die munisipaliteit vir water aan Mopani skuld.

Getroue belastingbetalers word nou gestraf vir die ANC se wanbestuur van die Ba-Phalaborwa-munisipaliteit en die Mopani-distriksmunisipaliteit.

Die ANC het met sy politieke speletjies en die herontplooiing van onbevoegde kaders van Ba-Phalaborwa na die distriksmunisipaliteit die eens vooruitstrewende Phalaborwa vernietig.

Inwoners verdien beter as die ANC.

MarcelleMaritz

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!