Leefstyloudits op amptenare en ampsdraers in Mpumalanga steeds nie uitgevoer

2021-07-21
Mnr. Werner Weber

Die VF Plus gaan druk uitoefen op die premier van Mpumalanga, Refilwe Mtsweni-Tsipane, om haar belofte gestand te doen om leefstyloudits op alle amptenare en ampsdraers in Mpumalanga te doen.

Die premier het in haar provinsiale openingsrede beloof om leefstyloudits en ander ondersoeke na amptenare en politici in die provinsie te doen in 'n daadwerklike poging om korrupsie uit te wis.

Sy het egter geen sperdatum aan dié ondersoeke geheg nie en sonder ‘n daadwerklike plan met spertye, keerdatums, teikens en gevolge-bestuur, is die premier se woorde en beloftes slegs lippetaal.

Die VF Plus het ook dringende vrae gerig aan die premier sowel as die LUR vir samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), Busisiwe Shiba, aangaande die leefstyloudit-proses vir provinsiale en munisipale amptenare, die koste daaraan verbonde en die gevolge indien gevind word ‘n amptenaar is skuldig aan korrupsie.

Gesien in die lig van die komende plaaslike regeringsverkiesing, is dit veral belangrik dat leefstyloudits op munisipale amptenare en ampsdraers uitgevoer word om te voorkom dat korrupte amptenare en ampsdraers weer in poste verkies word tot die nadeel van inwoners van munisipaliteite.

Die VF Plus sal voortgaan om korrupsie en die plundering van belastinggeld in Mpumalanga te beveg en toe te sien dat skuldiges aan die pen ry.



WernerWeberMpumalangaLeefstylOudits

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!