Krisis met DNS-toetse buite beheer nieteenstaande beloftes van polisie

2021-09-20
Dr Pieter Groenewald

Ten spyte van die regering en die polisie se versekerings dat die agterstand met forensiese DNS-toetse in misdaadverwante sake aandag geniet, hoe meer kritiek raak die situasie.

Luidens die antwoord op ʼn amptelike vraag van die VF Plus was die agterstand in DNS-toetse teen Februarie vanjaar 172 787. Op 11 Mei vanjaar het polisieminister Bheki Cele gesê dit staan op 208 291 en luidens die antwoord wat die VF Plus pas van die minister ontvang het, is die agterstand tans 237 631. Van die sake sloer al bykans drie jaar weens uitstaande toetse.

Die aantal uitstaande toetse het sedert Februarie vanjaar skerp toegeneem met 64 844 terwyl belangrike kontrakte met betrekking tot die verkryging van verbruiksgoedere en die diens, onderhoud en kalibrering van toerusting, steeds uitstaande is.

Die VF Plus sal ʼn opvolgvraag hieroor vra aangesien dit ʼn wesenlike rol speel in die groeiende krisis.

Wat die situasie meer onhoudbaar maak, is dat pres. Cyril Ramaphosa, min. Cele en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, by herhaling die probleem as ʼn krisis erken het en beloof het onmiddellik werk daarvan te maak.

Pres. Ramaphosa het in Mei aan die parlement gesê die agterstande is “heeltemal onaanvaarbaar” en die polisie “werk hard om dit uit te wis”. Hy het onderneem om selfs die private sektor te betrek om te help.

Min. Cele het met ʼn parlementêre debat oor die agterstande gesê die situasie is ʼn krisis wat ʼn “enorme invloed op die afhandeling van hofsake oor ernstige misdaad soos moord en verkragting het”.

Nou is dit duidelik dat daar geen waarde geheg kan word aan die beloftes van die president en die minister van polisie oor die krisis nie en die situasie stuur op ʼn katastrofe af indien dit op hoogste vlak nie omgekeer kan word nie.

Die situasie het ontstaan weens verskeie redes soos die interne twis tussen Cele en Sitole, kritieke vakatures in die polisie se forensiese afdeling wat grootliks deur regstellende aksie (RA) veroorsaak is en wanbestuur wat onder meer gelei het tot groot tekorte aan verbruikersmiddele.

Teen die agtergrond van die snel-stygende misdaadsyfers mag die regering nie langer net lippediens lewer oor oplossings nie. Dit laat veral vroue in die steek wat die slagoffers is van geslagsmisdade.



 

MisdaadPolisieDrPieterGroenewaldDNS-toetse

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!