Kragtoer van VF Plus voortgesit in Drakenstein

2022-11-24
Dr Corné Mulder

Die kragtoer van die VF Plus in onlangse tussenverkiesings soos gister in Drakenstein waar hoofsaaklik teen die DA meegeding is, het nou ’n onbetwisbare tendens geraak.

Terselfdertyd kan die DA hul swak vertonings soos verlede week in Bela-Bela (Warmbad) en gister in wyk 17, Drakenstein, nie langer as blote glipsies afmaak nie. Dit begin ook ’n tendens vorm.

Die VF Plus se steun in Drakenstein in die Kaapse Wynland het binne ’n jaar gespring van 13% (in 2021) tot 41% gister. Dit het bykans vervierdubbel.

In Bela-Bela het die VF Plus se steun sedert die plaaslike regeringsverkiesing verlede jaar met 75,6% toegeneem.

Daarenteen is die DA se steun in Drakenstein af van 80% verlede jaar tot die huidige 49%.

Dr. Corné Mulder, leier van die VF Plus in die Wes-Kaap, skryf hierdie groei in steun toe aan toenemende kiesersvertroue in die VF Plus se bestendigheid en beleid wat vertroue inboesem.

Na byna dertig jaar het kiesers moeg geraak vir ’n regerende party wat nét afbreek en opposisiepartye wat nét kritiseer. Die VF Plus se beleid bied hoop vir die toekoms.

Waar die party in koalisieregerings betrokke is, of selfs waar enkele raadslede teen ’n oormag stry, wys die VF Plus dat hy deurlopend die belange van die publiek eerste stel.

Wat gister in Drakenstein gebeur het, wys dat minderhede besef hulle kan na mekaar uitreik en hulself en hul gemeenskappe met hul stemme bemagtig.

Die VF Plus sal aanhou werk aan die sterk fondamente wat regoor die land gevestig word om ’n tuiste vir almal te skep wat in die toekoms glo en nie ’n ander heenkome het of wil hê as Suid-Afrika nie.

DrCornéMulderTussenverkiesingDADrakensteinMunisipaliteit

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!