Kragskepe op omgewingsgronde afgekeur: Redelike denke seëvier

2021-06-25
Dr. Wynand Boshoff

Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die departement van omgewingsake dat die aansoeke vir drie kragskepe in Suid-Afrikaanse hawens afgekeur is. Die planne was uit die staanspoor in omstredenheid gehul op grond van drie oorwegings: Die twintigjaartermyn waarvoor kontrakte gesluit sou word; die proses by minerale hulpbronne en energie; en die omgewingsimpak daarvan.

Kragskepe word internasionaal bemark as 'n noodmaatreël. Die praktyk is dat groot vraghouerskepe wat tot drywende kragsentrales omskep is, vasmeer by 'n wêrelddeel met 'n tydelike kragnood, byvoorbeeld na 'n aardbewing of tsunami. Wanneer normale kraglewering herstel is, vertrek die skip weer.

Die VF Plus het reeds op 8 April bespiegel dat ongerymdhede in die toekenning van hierdie kontrakte aan die lig mag kom. Sedertdien het veral die Daily Maverick verskeie artikels met die strekking dat prosesse gemanipuleer is, gepubliseer. Die afkeuring op omgewingsgronde mag veroorsaak dat belangstelling in moontlike onreëlmatighede sal taan.

Omgewingskwessies was uit die staanspoor een van die groot bronne van kommer. Aan die een kant is die energiebron, naamlik gas, wat aan skepe voorsien moet word; aan die ander kant die impak van die skepe self op die direkte marine-omgewing. Dit is die punt waarop die proses tans gestuit word.

Sedert onderhandelings met die Russiese kernkragverskaffer, Rosatom, het Suid-Afrika ver gevorder. Die aanwysing van kragskepe as noodverskaffers het dit laat lyk of die land weer in daardie opsig agteruitgaan. Hierdie aankondiging herstel vertroue in die vereiste prosesse.

 

DrWynandBoshoffOmgewingsakeKragskepe#Karpowership

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!