Koronavirus: VF Plus versoek dat hospitale in Limpopo op gereedheidsgrondslag geplaas word

2020-02-05
Marcelle Maritz

Alhoewel die amptenaar van die Groblersbrug-grenspos op die grens tussen Limpopo en Botswana negatief getoets is vir die koronavirus volgens die gesondheidsdepartement van Limpopo, sal die VF Plus die situasie fyn dophou.

Die VF Plus het gister ‘n brief gestuur aan die LUR vir gesondheid in Limpopo, dr. Phophi Ramathuba, waarin versoek word dat hospitale in die provinsie op ʼn gereedsgrondslag geplaas word indien die virus uitbreek.

Daar kan nie gesloer word om die nodige maatreëls by hospitale te tref om die moontlike uitbreek van die virus te hanteer nie.

Gesien in die lig daarvan dat daar moontlik vyf gevalle van koronabesmetting in Botswana aangemeld is, moet ‘n bewuswordingsveldtog geloods word om inwoners in te lig wat die simptome is wat met die virus gepaard gaan.

Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om die nodige voorsorgmaatreëls te tref en onmiddellik vir mediese hulp te gaan indien simptome van die virus vermoed word.

Dit geld veral vir mense wat onlangs enige van die geraakte lande besoek het, of in kontak was met mense wat daarheen gereis het.


Kontaknommer: 066 024 4623

MarcelleMaritzLimpopoKoronavirus

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!