Kommissaris vir omgewingsake nodig vir die Wes-Kaap

2021-03-31
Mnr. Peter Marais

‘n Kommissaris vir omgewingsake is nodig vir die Wes-Kaap. Die provinsiale Grondwet maak voorsiening vir die pos en dit is van wesenlike belang vir die provinsie.

Die VF Plus het met die onlangse vergadering van die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die grondwetlike aangeleenthede-komitee dit sterk aanbeveel dat die aanstelling wel gedoen word.

Dit was nadat die departement van omgewingsake ‘n wysiging aan die Wes-Kaapse Grondwet aanbeveel het om artikels 71 tot 77 te herroep en aanbeveel het dat die pos geskrap moet word aangesien dit oorvleuel met funksies wat reeds in nasionale wetgewing vervat word. Volgens die departement sou dit ‘n onnodige uitgawe daarstel.

Die VF Plus stem nie saam nie en meen dit is kortsigtig om dié belangrike funksie onder die beheer van die onbevoegde ANC-nasionale regering te plaas.

Die Wes-Kaapse Grondwet is deur die Grondwethof bekragtig, wat aan die provinsie die magte gee om te besluit oor die aanstelling van ‘n omgewingskommissaris.

Die VF Plus sal nie toesien dat die ANC hierdie rol oorneem nie. Soos met elders in die land op provinsiale en plaaslike regeringsvlak waar die ANC in beheer is, sal dit ook net in wanorde en wanfunksionaliteit verval.

Die VF Plus sal aanhou veg om seker te maak dat die pos en funksieposisie nie van die Wes-Kaapse provinsie weggeneem word nie.



OmgewingsakePeterMaraisWesKaap

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!