Klaskamer lewensgevaarlik nadat plafon op laerskoolkinders in Hammanskraal val

2020-02-21
Jean Kriek

Die VF Plus-jeug in Gauteng doen ‘n beroep op die Gautengse LUR vir onderwys, Panyaza Lesufi, om dadelik ‘n taakspan saam te stel om die strukturele veiligheid van skole te ondersoek.

Die VF Plus doen hierdie beroep nadat ‘n plafon van ‘n klaskamer by die Laerskool Kgomba in Hammanskraal gisteroggend op leerlinge ineengestort het. Twintig leerlinge is in die voorval beseer.

Leerlinge het die reg om in ‘n veilige omgewing onderrig te ontvang en dit is die plig van die onderwysdepartement en die departement vir infrastruktuur en ontwikkeling om toe te sien dat skole se infrastruktuur onderhou word om leerlinge teen gevaarlike situasies by skole te beskerm.

Leerlinge en die gemeenskappe waaruit hulle kom, gaan reeds gebuk onder baie uitdagings en die minste wat van die onderwysdepartement verwag kan word, is om toe te sien dat kinders in ‘n veilige omgewing skoolgaan.

In Gauteng is talle leerlinge al vanjaar in verskeie onverwante voorvalle dood of beseer.

Dit is prysenswaardig dat Lesufi die gesinne van elke slagoffer en skool besoek, maar sy taak sal vergemaklik word wanneer behoorlike instandhouding by skole plaasvind om voorkombare voorvalle te verhinder.

In Februarie verlede jaar moes bykans die helfte van Hoërskool Roodepoort se klaskamers ontruim word weens strukturele probleme. Dit was kort ná die tragedie by die Hoërskool Driehoek waar vier leerlinge dood is nadat ‘n loopbrug ineengestort het.

Die departement van onderwys kan nie toelaat dat skole in gevaarsones ontaard nie. Gauteng kan nie nog ‘n Driehoek-tragedie bekostig nie. Die VF Plus se lede in die Gautengse wetgewer gaan ook die aangeleentheid dringend met Lesufi bespreek om oplossings te vind.


Kontaknommer: 079 224 7321

GautengJeanKriekOnderwysSkoleInfrastruktuur

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!