Klagte van terrorisme en poging tot moord teen boer ná Senekal-hofsaak is onregverdig en ruik na rassisme

2020-10-09
Dr Pieter Groenewald

Die aanklagte van onder meer terrorisme, poging tot moord, aanhitsing van openbare geweld en openbare geweldpleging waarvan mnr. André Pienaar (51) aangekla word ná die Senekal-hofsaak, dien as bewys dat daar dubbele standaarde is wanneer boere en die landbougemeenskap geraak word.

Die staat het vandag ook ‘n senior advokaat aangestel om mnr. Pienaar se borgaansoek teen te staan. Dit is duidelik dat die vervolgingsgesag ‘n voorbeeld van mnr. Pienaar wil maak om sodoende ‘n boodskap aan die boere en die landbougemeenskap te stuur.

Die klagte van terrorisme en poging tot moord is ernstig en onbillik en daardeur maak die vervolgingsgesag homself skuldig aan vooroordele en vervul hy nie sy rol as ‘n objektiewe gesag wat gelykmatig in belang van elke persoon in die land moet optree nie.

Die vervolgingsgesag moet objektief, billik en regverdig optree teenoor alle aangeklaagdes. Dit is duidelik dat dit hier nie gebeur nie en dat die klagte totaal uit verband geruk word.

Daar was geen sprake van terrorisme tydens die Senekal-hofsaak nie en iemand se lewe is bedreig nie.

Hierdie tipe aanklagte gaan net emosies opjaag en kan lei tot verdere konflik in Suid-Afrika. Dit kom neer op verdere aanhitsing deur die vervolgingsgesag.

Daar is nêrens gesien dat enige klagte van terrorisme en poging tot moord ingedien is teen lede van die EFF toe hulle in landwye veldtog van geweld die Clicks-winkels geplunder het nie.

Daar is ook nie gesien dat sulke klagte ingedien is ná landwye dienslewering-protesoptogte waar polisievoertuie opsetlik aan die brand gesteek is en private eiendom geplunder is nie.

Dit is totaal onaanvaarbaar en ek sal as leier van die VF Plus hierdie saak direk verder opneem met die betrokke ministers en die polisie.

Die klagte skep ‘n gevaarlike situasie en dit kan nie bekostig word dat onregverdigheid en dubbele standaarde so blatant toegepas word deur ‘n sekere groep mense in Suid-Afrika teen die landbougemeenskap en boere in die besonder nie.

Die wek die indruk dat daar ‘n rassistiese ondertoon is wat die rede is vir die ernstige klagte. Die VF Plus sal eis om verduidelikings en antwoorde om helderheid te kry oor die saak.


Navrae: 083 627 4397 / 065 801 7216

 

DrPieterGroenewaldPlaasmoordeSenekalAndrePienaarTerrorisme

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!