Infrastruktuur verval weens onderbesteding – streng riglyne word neergelê

2019-12-06
Mnr. Fanie du Toit

Die geselekteerde komitee oor begrotings oor die Wetsontwerp op die Aanpassingsbegroting het vandag ʼn verslag aanvaar wat streng riglyne neerlê om dienslewering en die effektiwiteit van sommige staatsdepartemente te verbeter wat droogtehulp aanbetref.

Dit volg nadat die VF Plus groot klem gelê het opdien noodsaaklikheid van droogtehulp vir boere, veral nadat droogtehulp vir Noordwes in die slag gebly het.

Die komitee het aangaande die ondersbesteding van die infrastruktuur-begroting vir droogteverligting aanbeveel dat die ministers van water en sanitasie, gesondheid, basiese onderwys en van omgewing, bosbou en visserye sekere ingrypende stappe moet neem om dienslewering te verbeter en om onderbesteding uit te skakel.

Dit sluit in dat ‘konkrete planne’ binne sestig dae na die aanvaarding van die verslag by die parlement ingedien word om toekomstige onderbesteding te vermy.

Die planne moet swak beplanning en begrotings behandel en toesien dat interne projekbestuursvaardighede opgeknap word.

Die komitee vereis ook dat die onderskeie departemente aanstaande jaar seker moet maak dat uitvoerbare planne aan die parlement voorgelê word wat in lyn is met departemente se begroting. Die departemente met ook toesien dat vakante sleutelposte, wat ʼn invloed het op dienslewering, gevul word.

Die VF Plus sal voortgaan om die lot van boere wat onder die droogte gebuk gaan, as ʼn saak van kritieke landsbelang te dryf en sal nie toelaat dat die staat se verantwoordelikhede in hierdie opsig opsy probeer skuif nie.


Kontaknommer: 079 885 1135

FanieDuToitdroogtehulp

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!