Hoër onderwysbeleid is taalimperialisme in die naam van insluiting

2019-10-16
Dr. Wynand Boshoff

Die minister van hoër onderwys, dr. Blade Nzimande, het in antwoord op 'n skriftelike vraag van die VF Plus geantwoord dat universiteite wegbeweeg het van instellings en kampusse wat slegs Afrikaans gebruik.

Volgens Nzimande het die Grondwethof dié beweging in pas met die Grondwet bevind en, hoewel die regering nie instellings se taalbeleid instel nie, word dit ondersteun. Hy stel dit verder dat instellings nie taalbeleid as 'n hindernis tot toegang en sukses vir studente mag implementeer nie en maan private hoër onderwysinstellings dat dieselfde vir hulle geld.

Hierdie antwoord bevestig die beleid wat reeds oor die afgelope jare toegepas word en wat Afrikaans geleidelik as akademiese taal uitskakel.

Die minister se argument kom daarop neer dat elke kampus en elke instelling vir hoër onderwys verteenwoordigend van die land se bevolking moet wees. Indien tien persent van die land se bevolking Afrikaanssprekend is, beteken dit dat sprekers van dié taal op elke kampus 'n klein minderheid sal wees, sonder die vermoë om hul taal op akademiese vlak aan te wend.

Terwyl die minister voorgee dat Afrikaans as verskoning tot uitsluiting misbruik word, misbruik hy insluiting as verskoning om Afrikaans uit te skakel.

Ironies genoeg plaas dr. Nzimande homself met hierdie uitspraak in die geselskap van fascistiese leiers soos Mussolini in Italië en Franco in Spanje, wat ook minderheidstale in hul lande misken en onderdruk het. Daarenteen het selfs Stalin van die Sowjet-Unie die kulturele verskeidenheid binne sy staatsgrense erken.

In die wêreldgeskiedenis het state met kulturele verskeidenheid dit op een van twee maniere hanteer: Miskenning, of erkenning. Miskenning lei tot frustrasie, uitsluiting en self burgeroorlog, terwyl erkenning sulke situasies ontlont.

Een van die beste voorbeelde is waar die oorloggeteisterde Etiopië 'n vreedsame land geword het toe dit in die jare 90 van 'n eenheidstaat tot 'n kulturele federasie oorgegaan het.

In wese bewys die regering se hoër onderwysbeleid dat die 1994-skikking deur die ANC verbreek is. Daardie skikking het aan dié wat mag prysgegee het, eiendomsreg gewaarborg en beloof dat individuele regte kulturele regte oorbodig sou maak. Tans is onteiening sonder vergoeding regeringsbeleid en individuele regte word stelselmatig gebruik om kulturele regte onmoontlik te maak.

Die grootste ironie is egter dat Afrikaans tydens die twintigste eeu tot die hoogste vlak ontwikkel is, juis ter wille van insluiting. Engels as enigste akademiese taal sou 'n belangrike deel van die Afrikaanse taalgemeenskap uitsluit, maar hulle kon deur hulle eie taal toegang verkry. Vanselfsprekend het Engels as wêreldwye akademiese taal deurentyd ook 'n belangrike rol aan Afrikaanse universiteite gespeel.

In plaas daarvan dat die ANC-regering ander Afrika-tale ontwikkel om vir die sprekers daarvan ook toegang te bewerkstellig, word die vals argument gebruik dat uitsluiting Afrikaans se skuld is. Sodoende verskans die regering uitsluiting, terwyl dit die ervaring wat Afrikaans opgebou het, tot voordeel van alle Suid-Afrikaners kon aanwend.


Kontaknommer: 074 166 5540

DrWynandBoshoffAfrikaans

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!