Hoogste hof wys op onreg van ANC-transformasie

2016-07-15
Adv Anton Alberts

Die Grondwethof het sy uitspraak in die korrektiewe dienste-saak die VF Plus se siening bevestig dat regstellende aksie (RA) soos dit in die ANC-regering se transformasie-agenda toegepas word immoreel en skadelik is, sê adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor justisie.

Adv. Alberts sê die uitspraak is hopelik die begin van die einde vir RA met die vooruitsig van verbeterde dienslewering oor die hele Suid-Afrika indien mense weer op meriete aangestel word en nie streng op grond van ras nie.

“Die VF Plus wil hiermee sy gelukwensinge oordra aan die Solidariteit en die betrokke amptenare. Die ANC kry hiermee ook duidelik die boodskap dat hy nie onbepaald kan voortgaan om skadelike en ongrondwetlike beleid op die minderhede van die land af te dwing nie.

“Die VF Plus se standpunt is nog deurlopend dat transformasie niks anders as rassisme is nie. Die skade daarvan op die land se ekonomie en op dienslewering in die algemeen is enorm.

“Die waarheid is dat die staatsdiens tans agter is om die wanbalanse teenoor wit en bruin werkers reg te stel. Daar is tans ʼn onderverteenwoordiging van wit en bruin op alle vlakke in die staatsdiens. Die VF Plus sal aanhou om druk op die regering te plaas om dit reg te stel.

“Selfs in die privaat sektor is te min wit en bruin werkers in junior poste. Waarom word dit nie ook aangespreek nie? Die ANC is duidelik besig om net ag te slaan op die swart wanbalanse in die arbeidsmark, wat suiwer rassisme is,” sê adv. Alberts.

 

Kontaknommers: 082 391 3117 / 083 419 5403

 

 

 


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!