Die VF Plus se standvastige houding en harde werk teen pogings van die ANC en die EFF om Artikel 25 van die Grondwet te verander, het vandag bygedra tot die sterk stem van Suid-Afrikaners wat onteiening sonder vergoeding verwerp het.
Die 145 stemme teen 204 wat voor die tweede lesingsdebat gestem het teen die wetsontwerp om die Grondwet te verander, sluit aan by die boodskap wat kiesers op 1 November met die plaaslike regeringsverkiesing aan die ANC gegee het: Dit is dat die regerende party nie meer namens die meerderheid Suid-Afrikaners praat nie.
Aangesien hierdie ʼn poging was om die Handves van Regte in die Grondwet te wysig, was ’n tweederde-(2/3)-meerderheid of 267 stemme benodig. Die ANC kon dit nie naastenby haal nie.
Boonop was die voorafgaande prosedurele proses om die wet tot stand te bring - getrou aan die ANC se onbevoegdheid - deurspek met ongerymdhede. Van die parlementêre oorsigkomitee tot die twee ad hoc-komitees.
Dit het daartoe bygedra dat die proses sedert 2018 onnodig uitgerek is wat groot onsekerheid onder Suid-Afrikaners en potensiële beleggers tot gevolg gehad het.
In dié tyd het sowat 75% van alle Suid-Afrikaners in openbare deelname-prosesse, deur voorleggings en in die parlement, hulle teen die verandering aan Artikel 25 en onteiening sonder vergoeding uitgespreek.
Die rede vir die weerstand teen die proses is eenvoudig. Eiendomsreg is ’n internasionaal-erkende, basiese mensereg. Om dit weg te neem sal lei tot ʼn ekonomiese ineenstorting en die land vernietig.
Die ANC het goed besef onteiening sonder vergoeding is niks anders nie as beslaglegging en het dit probeer verbloem deur ’n eufemistiese woordespel soos “nul vergoeding’’ wat sou geld vir eiendom.
Niemand het daarvoor geval nie, ook nie die meerderheid in Suid-Afrika se parlement nie.
Die regering moet homself nou eerlik afvra wat die beste internasionale praktyk is wat eiendomsreg aanbetref. Suksesvolle lande waarborg eiendomsreg en die oppergesag van die reg.
Die VF Plus is saam met alle regdenkende Suid-Afrikaners verheug dat gesonde verstand geseëvier het oor ’n saak wat net in rampspoed kon eindig.
Onteiening sonder vergoeding sou Suid-Afrika sonder enige twyfel op ’n snelweg van vernietiging plaas soos met Zimbabwe gebeur het.