Hantam: Poskantore se verval raak almal se sak

2022-10-05
Jan Palm

Die poskantore in die Hantam-plaaslike munisipaliteit (Calvinia, Nieuwoudtville, Loeriesfontein) lewer tans geen diens ten opsigte van die hernuwing van motorlisensies nie.

Soos wat die tyd verloop en dienste nie verbeter nie, word die gemeenskap al hoe meer verontrief.

Die gewone poskantoordienste raak al hoe swakker en die bydrae tot die gemeenskap verdwyn.

Die gemeenskap is raadop, want om ’n voertuiglisensie te probeer hernu, is telkens onsuksesvol.

In Nieuwoudtville sowel as Calvinia is daar slegs een persoon per poskantoor aangestel. Indien die persoon afwesig sou wees, is die poskantoor gesluit.

Die naaste poskantoor wat lisensies kan hernu, is in Brandvlei, wat sowat 150km van Calvinia is.

Terwyl hierdie gebrek aan diens op enige plek ongerief veroorsaak, word dit deur die wye verspreiding van dorpe in die Hantam vererger. Dit sluit huishoudings, sakelui en die landbousektor in.

Die VF Plus het onlangs daarop aangedring dat hierdie saak met die eerste moontlike raadsvergadering bespreek word. Die munisipaliteit behoort hierdie funksie terug te neem en só dienslewering te verbeter.

Die VF Plus sal die nodige druk toepas sodat die diens aan die gemeenskap verbeter.

Daarvoor word samewerking van alle dele van die gemeenskap gevra.

PoskantoorHantamJanPalmVerval

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!