Grondbesetters in Noord-Kaap kry wind van voor

2019-10-08
Dr. Wynand Boshoff

Grondbesetters by Daniëlskuil in die Noord-Kaap het die wind van voor gekry toe die departement van openbare werke aan wie die terrein behoort, 'n klag by die polisie ingedien en begin het met stappe om 'n interdik te verkry teen die besetting van die grond.

Die besetters het egter voortgegaan met die uitmerk van erwe en die ontbossing van die omgewing. Daar is selfs 'n kennisgewing aangebring wat die terrein as "Ré Losper Estate" aandui, op die oog af 'n verwysing na die burgemeester van Kgatelopele, me. René Losper.

In nog 'n verwikkeling het 'n inwoner van Daniëlskuil 'n klag van crimen injuria en aanhitsing tot die pleeg van 'n misdaad teen ʼn vroulike persoon ingedien. Die inwoner beskik oor videomateriaal waar die persoon besetters aanmoedig om die wet te oortree sodat dit die plaaslike owerheid kan dwing om die grond beskikbaar te stel, ook waar sy na die klaer as 'n "bobbejaan" verwys.

Die grond word deur ʼn opkomende veeboer gehuur wat dit reeds jare lank as weiding vir sy vee aanwend. Hy moes verlede week inderhaas sy vee verwyder nadat vermoedelik besetters van die vee begin steel het.

'n Gemeenskapslid wat ook 'n praktiserende hidroloog is, het ingestem om geskikte terrein te help identifiseer waar die besetters hulle kan vestig.

Alhoewel die terrein goed geleë is, beland dit periodiek onder vloedwater en is daarom nooit ontwikkel nie. Dit is belangrik dat die geologie van die omgewing professioneel behandel sal word aangesien dolomiet algemeen is en tot sinkgate kan lei as die dit met water in aanraking kom.


Kontaknommer: 074 166 5540


Het jy dit interessant gevind? Deel dit!