Goeie en slegte nuus in begroting, maar geld word steeds vermors op bodemlose putte soos die SAL en die padongelukkefonds

2020-02-26
Dr Pieter Groenewald

Die VF Plus verwelkom die aankondiging van die minister van finansies, Tito Mboweni, dat daar wel verligting vir belastingbetalers gaan wees, veral met betrekking tot die verandering in die inkomste-skale van persoonlike inkomstebelasting.

Dit sal broodnodige verligting bring aangesien dit baie mense se besteebare inkomste sal verhoog en sal meebring dat meer geld in die ekonomie bestee word wat groei kan stimuleer.

Aan die negatiewe kant is dit teleurstellend dat die brandstofheffing verhoog word en dat die geleentheid weer nie gebruik is om ʼn sukkelende staatsentiteit soos die SAL te sluit en te privatiseer nie.

Die brandstofheffing van 25 sent sluit in ʼn verhoging van 9 sent per liter vir die padongelukkefonds wat onaanvaarbaar is aangesien dié fonds ʼn totale mislukking is.

Die VF Plus vra dat ʼn verpligte derdeparty-versekering vir alle motoreienaars eerder ingestel moet word as om voort te gaan met ʼn mislukte padongelukkefonds.

Die minister neem sekere aansporings vir maatskappye weg wat veral die vervaardigingsektor nadelig sal raak, maar gaan voort met ʼn aantal positiewe aansporings soos ʼn ander belastingvoordeel vir die industriële sektor.

Die feit dat die begrotingstekort al hoe groter word, is nie goeie nuus nie. Suid-Afrika bestee toenemend meer as wat sy inkomste is. Die staat se skuld gaan meer as 70% van die Bruto Binnelandse Produk uitmaak.

Nasionale tesourie se vooruitskatting is dat die land ʼn groeikoers van 0,9% gaan hê. Dit beteken dat al die uitgawes en inkomstes gegrond is op ʼn groeikoers van 0,9%. Die realiteit is egter dat die groeikoers heel moontlik veel laer gaan wees as wat nasionale tesourie in die vooruitsig stel.

Onvoorsiene faktore soos die korona-virus en beurtkrag, sal waarskynlik daartoe bydra dat die groeikoers veel laer as 0,9% sal wees wat sal lei tot ʼn veel groter begrotingstekort en finansieringskoste op skuld.

Volgens die minister wil hy die staat se salarisrekening besnoei met R37,8 miljard in hierdie finansiële jaar en daarna altesame R160 miljard in die volgende drie jaar. Die vraag is of Cosatu en ander vakbonde hom sal toelaat om dit te doen aangesien Cosatu gister reeds gesê het hy sal oorlog verklaar teen ʼn afname in salarisverhogings.

Die VF Plus stem saam dat Eskom gered moet word, maar geld van die staatsdiens-pensioenfonds mag nie daarvoor gebruik word nie. Ander fondse mag ook nie voorgeskryf word om in Eskom te belê nie.

Die voorsiening wat weereens gemaak word vir ʼn reddingsboei vir die SAL is onaanvaarbaar en onbekostigbaar. Die redery moet nou geprivatiseer word aangesien dit die belastingbetaler jaarliks miljarde rand kos sonder om enige voordeel daarvoor te wys.


Kontaknommers: 083 627 4397 / 065 801 7216 / 082 674 6670

DrPieterGroenewaldTitoMboweni#BudgetSpeech2020Begroting2020

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!