Geveg teen renosterstropery sal nie gewen word solank stropers met handskoene hanteer word nie

2021-08-19
Werner Weber

Die stryd teen renosterstropery en misdaad in die algemeen sal nooit gewen word terwyl daar, soos in Mpumalanga, ʼn vermeende leiersfiguur in renosterstropery op borgtog vrygelaat word terwyl hy reeds op borgtog uit is vir ʼn vorige saak wat met stropery verband hou wat reeds langer as tien jaar sloer nie.

Twee mans van Mbombela (Nelspruit), Johannes Groenewald en Schalk Steyn, het borgtog ontvang op aanklagte van renosterstropery. Albei is bekende plaaslike sakemanne. Albei is einde verlede maand (Julie) in Mbombela betrap met 19 onwettige renosterhorings in hul besit.

Die VF Plus verwelkom die feit dat hulle in hegtenis geneem is, maar vind dit onaanvaarbaar dat die een beskuldigde se vorige hofsaak sedert 2010 voortsleep met die een uitstel na die ander.

Die jongste, amptelike statistiek van Sanparke toon dat die wêreld se grootste bevolking renosters - wat in die Nasionale Krugerwildtuin gevind word - die afgelope dekade met tussen 66% en 70% verminder het.

Dit is hoofsaaklik weens die onophoudelike aanslag en vernietigingswerk van internasionale renosterstropery-sindikate waarby Suid-Afrikaners betrokke is.

Onverbiddelike polisie-optrede en swaar strawwe teen renosterstropers is nodig om die witrenosterspesie van uitwissing te red.

Die aangeleentheid rondom die behoud van die Skukuza-streekshof wat in hierdie sake gespesialiseer het, is 'n bewys dat die oplossing by die justisie-stelsel bly.

Die VF Plus het Dinsdag in die wetgewer 'n beroep gedoen op mnr. Vusi Shongwe, die LUR vir gemeenskapsveiligheid, om ondersoek in te stel na die redes waarom die een beskuldigde se ondersoek so lank sloer.

Hy is ook versoek om seker te maak dat alle hangende ondersoeke, insluitende die nuwe saak teen die mans, spoedig afgehandel word.



WernerWeberRenosterstropery

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!