Die VF Plus is geskok oor die soveelste GEPF-afskrywing van swak skuld weens twyfelagtige lenings aangegaan deur die openbare beleggingskorporasie (OBK) namens miljoene staatsdienswerkers en pensioenarisse.
Uit die GEPF se jaarverslag blyk dit dat miljarde rand se slegte leningskuld afgeskryf is waarvan sommige gemaak is aan politiek-gekonnekteerde persone soos Iqbal Surve. Die VF Plus eis daarom dat die GEPF-trustees nou ferm optree en die mandaat met die OBK beëindig en regstappe neem om die verliese van die OBK te verhaal.
Hierdie skuldafskrywing is nie die eerste een weens swak oordeel van die OBK wat baie lief is om twyfelagtige beleggings en lenings aan politieke bondgenote van die ANC uit te deel nie.
In hierdie geval is R3,36 miljard van Lancaster Group afgeskryf. Dit bring die totale afskrywing op R9 miljard teen ‘n leningstotaal van R12,9 miljard. Die effek hiervan is dat driekwart van die lening aan Lancaster Group eenvoudig afgeskryf is. Die hoof van die groep, Jayendra Naidoo, het blykbaar ook politieke bande met die ANC.
Die ander afskrywings sluit in R112 miljoen van Iqbal Surve se Independent Group en selfs R48,5 van VBS Mutual Bank. ‘n Werklike vreemde afskrywing is die R2,3 miljard vir Belelani Capital wat binne ‘n periode van 12 maande plaasgevind het nadat ‘n lening van R5,8 miljard toegestaan is. In hierdie geval is bykans 50% afgeskryf.
Dit is dus baie duidelik dat die GEPF nie kan staatmaak op die goeie oordeel van die OBK nie en dat die GEPF-lede se pensioenfondse roekeloos verspil word op sake-avonture van ANC-bondgenote met geen sinvolle sakegrondslag nie.
Die GEPF se mening dat hulle die oorsig oor die OBK sal verskerp is nie genoeg om te bewys dat die trustees hul fidusiêre verpligtinge nakom nie.
In hierdie stadium sal die trustees hul fidusiêre verpligtinge verbreek deur nie alle bande met die OBK te breek en die skade van die OBK te verhaal nie.