Geloftedag: Ware versoening lê in respek vir erfenis en die viering daarvan

2021-12-16
Heloïse Denner

Ware versoening sal eers plaasvind wanneer almal in Suid-Afrika mekaar se verskille, dié dinge wat ons uniek maak soos ons taal, kultuur en erfenis, met wedersydse respek benader.

Versoening lê nie daarin dat verskillende kultuurgroepe moet opoffer dit wat eie aan hulle is nie. Dit is nie versoening nie, maar eerder kulturele uitwissing.

Elkeen moet die geleentheid en ruimte hê om sy kultuurerfenis uit te leef.

Afrikaners wat kies om die 1838-Gelofte te herdenk, moet dit met trots en sonder skaamte kan doen.

Geloftedag kan nie teenoor Versoeningsdag gestel word waar die een teen die ander afgespeel word nie. Die geleentheid moet eerder benut word om 'n wen-wen-situasie te skep vir almal.

Die ANC-regering probeer, soos met transformasieteikens en kwotas, ook kunsmatige versoening op die burgers van Suid-Afrika afdwing terwyl die regering self presies die teenoorgestelde in praktyk toepas.

Dit word gedoen deur diskriminerende wetgewing en verdelende en kwetsende uitsprake.

Die Afrikaner en veral die Afrikanerjeug word wysgemaak dat hul geskiedenis niks meer as ʼn klad op Suid-Afrika se naam is nie en hulle word inderwaarheid geleer om skaam te wees vir hul herkoms. Niks kan egter verder van die waarheid wees nie.

Die jeug moet geleer word dat die Afrikaner met die hulp van die Allerhoogste deur moeilike tye en oënskynlik onoorkombare uitdagings kon kom en dat hulle met reg daarop trots mag wees.

Afrikaners moet self opstaan teen die onderdrukking en vernedering van hul erfenis deur ʼn voorbeeld van wedersydse respek te stel.

ʼn Boodskap moet uitgestuur word dat die Afrikaner, soos ander minderheidsgroepe, trots mag wees op hul herkoms, dat hul erfenis met trots gedenk mag word en dat ware versoening eers sal geskied wanneer alle kultuurgroepe van Suid-Afrika gelyk en met respek behandel word.

Daar moet genoeg ruimte vir almal in Suid-Afrika wees sodat geen volk of kultuurgroep bedreig of vervreemd voel nie.

 

 

HeloiseDenner#Versoeningsdag#Geloftedag#DayOfTheVow#ReconcilliationDay

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!