Gekombineerde Skool Cullinan: Lesufi minag weer die regte van Afrikaanstalige gemeenskappe

2020-01-28
Adv Anton Alberts

Dis duidelik dat Panzaya Lesufi, Gautengse LUR vir onderwys, voortgaan met sy aanvalle teen die Afrikaanssprekende gemeenskap nadat hy Afrikaans by die Gekombineerde Skool in Cullinan afgeskaf het.

Volgens die Gautengse departement van onderwys is daar besluit om die onderrig van Afrikaans af te skaf weens die kwynende getal Afrikaanse leerlinge aan die betrokke skool.

Die VF Plus vind dit egter skandalig dat die departement geen ag slaan op minderheidsregte en veral op Afrikaanse minderheidsregte nie. Trouens, daar word dubbele standaarde toegepas aangesien Afrikaanstalige skole geteiken word om anderstalige leerlinge in te neem en selfs ekstra klasse te skep, terwyl Afrikaanse leerlinge van skole weggewys word omdat Afrikaans as onderrigtaal afgeskaf is.

Daar kan tereg gevra word waarom Afrikaanssprekende leerlinge wat in die minderheid is, verwyder en by ander skole ingedeel word? Dit sou immers net billik wees dat skole ook vir Afrikaanse leerlinge klaskamers sal inrig.

Die VF Plus gaan intussen met die gemeenskap van Cullinan kontak maak en sal die benadeelde leerlinge bystaan. Die party gaan ook die departement van onderwys konfronteer rondom die afskaffing van Afrikaans en leerlinge wat geskuif is na ander skole.

 

Kontaknommer: 082 391 3117

AfrikaansAdvAntonAlbertsBasieseOnderwysPanyazaLesufi

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!