Inwoners van Breyten in die Msukaligwa-plaaslike munisipaliteit (Breyten, Chrissiesmeer, Davel, Ermelo, Lothair, Warburton) gaan vir etlike maande gebuk onder ʼn watertekort aangesien ʼn kragopwekker sonder diesel staan.
Dié kragopwekker is in Maart vanaf die waterwerke in Breyten verskuif na die waterpomp by die Torbanite-dam buite Breyten. Dit was juis om die knaende kragprobleme in daardie gebied op te los.
Die doel van die kragopwekker is om die waterpomp van elektrisiteit te voorsien tydens kragonderbrekings deur water na die waterwerke vanuit die dam te pomp. Tydens die installasie was die kragopwekker met diesel gevul, maar nooit weer daarna nie. Die aanvanklike dieselaanvulling het die kragopwekker vir ʼn maand gehou.
Sedertdien het die bestaande waterkrisis in die dorp, sowel as op omliggende dorpe soos Chrissiesmeer, Lothair en Warburton, vererger.
Die huidige aanvraag van water op Breyten beloop ses miljoen liter per dag, maar die waterstelsel kan slegs 2 miljoen liter per dag lewer.
Die munisipaliteit pas ook interne beurtkrag toe as gevolg van wanbetaling aan Eskom. Dit lei daartoe dat die waterpomp nou bykans glad nie funksioneer nie.
Verskeie plaaslike sake-ondernemings en inwoners sit reeds vir twee weke sonder 'n druppel water. Dit grens aan 'n humanitêre krisis en verg 'n dringende oplossing.
Die VF Plus het reeds 'n versoek gerig aan die betrokke burgemeesterskomiteelid vir beplanning en ekonomiese ontwikkeling, Msezane Motha, om dringend aandag aan die kwessie te gee en sal druk toepas totdat die munisipaliteit seker maak die kragopwekker word daagliks van diesel voorsien en tydig gediens.
Dit is onaanvaarbaar dat inwoners gestraf word vir die ANC-regering se wanbestuur. Dit is eenvoudig growwe nalatigheid en die skuldiges moet aan die pen ry.
Die mense van Msukaligwa verdien beter as die ANC.