Gebrek aan infrastruktuur-instandhouding haal JB Marks nou in

2022-06-27
Ian de Villiers

 

Die jarelange gebrek aan infrastruktuur-instandhouding is nou besig om die JB Marks-plaaslike munisipaliteit (Potchefstroom, Ventersdorp) in te haal.

Die VF Plus word in die jongste tyd oorval met klagtes van inwoners en ondernemings in Potchefstroom oor groot waterlekkasies wat soos fonteine regoor die dorp ontspring.

Dit blyk dat die verouderde water-infrastruktuur besig is om in duie te stort. Die meeste van hiérdie infrastruktuur is reeds jare verby hul vervaltydperk.

In woonbuurte soos Baillie Park, Van der Hoffpark en die Bult-area word die watertoevoer steeds gelei in asbespype wat nou met rasse skrede disintegreer.

Die lekkasies veroorsaak sinkgate wat in sommige gevalle selfs die toegang tot ondernemings en kantore in die dorp versper met groot finansiële verliese vir die eienaars.

Duisende liter water gaan ook daagliks só verlore met belastingbetalers wat moet pa staan vir die munisipaliteit se waterrekening, terwyl die water met die stormwaterdreine wegspoel.

Die stand van die strate gaan ook verder agteruit met slaggate wat gevorm word weens die verswakking van die padoppervlak wat deur die water veroorsaak word.

Dit blyk ook dat die munisipaliteit oor jare toegelaat het dat miljoene rande se noodsaaklike toerusting wat nodig is vir die herstel -en instandhouding van die dorp se infrastruktuur, só verval het dat daar nou op kontrakteurs aangewese is om noodherstelwerk te verrig.

Dit lei tot verdere koste met hoogs betaalde munisipale amptenare- en tegnici wat ledig sit omdat hulle nie die nodige toerusting en voorraad het om hul werk te doen nie.

Inwoners van Potchefstroom moes reeds die afgelope twee weke sien hoe die nasionale departement van vervoer ingegryp het om die N12 wat deur die dorp loop, van totale verval te red.

Dít weens die laksheid en onbeholpenheid van die JB Marks-munisipaliteit.

Die VF Plus dring reeds vir jare daarop aan dat die instandhouding en opgradering van infrastruktuur en toerusting in die munisipaliteit geprioritiseer moet word om te voorkom dat ʼn situasie soos tans ontstaan.

Die ANC-beheerde munisipaliteit in JB Marks het egter voortgegaan met die wanbestuur van finansiële hulpbronne met die gepaardgaande korrupsie wat telkens ontbloot is.

Die VF Plus sal voortgaan om te stry vir die prioritisering van infrastruktuur in die begroting en die herstel van professionele bestuur in die munisipaliteit.

Die inwoners van Potchefstroom en Ventersdorp verdien beter as die ANC.

infrastruktuurJBMarks

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!