Gautengse polisie moet nouer saamwerk met gemeenskapspolisiëringsforums en burgerlike veiligheidstrukture om onluste te bekamp

2021-07-30
Kobus Hoffman

Die VF Plus het gister tydens ‘n oorsigbesoek aan Sebokeng in Gauteng die belangrikheid van gemeenskappolisiëringforums benadruk en die Gautengse polisie aangemoedig om nouer saam te werk met burgerlike veiligheidstrukture.

Die gemeenskap-veiligheidsportefeuljekomitee van die Gautengse wetgewer het in Sebokeng vergader waartydens die Gautengse polisiekommissaris, lt.genl. Elias Mawela, ‘n oorsigverslag oor die onlangse onluste en plundery in provinsie gelewer het.

Die VF Plus is van mening dat sonder die samewerking van private sekuriteitsmaatskappye en burgerlike veiligheidstrukture, die Gautengse polisie onder verdere druk sou verkeer het om onluste in die provinsie in bedwang te bring.

Die party het ook reeds in die verlede die polisiekommissaris gewaarsku om polisielede beter toe te rus en op te lei om burgerlike anargie te bekamp.

Die Gautengse intelligensiedienste het voor en gedurende die onluste teleurgestel wat gelei het tot 68 voorvalle in Ekurhuleni, Johannesburg, Tshwane, Sedibeng en die Wes-Rand waartydens 23 winkelsentrums geplunder is.

Tydens die onluste is 26 polisielede, 13 Ekurhuleni- (waarvan een dood is), 14 Johannesburg-metropolisielede en een metropolisielid van Tshwane beseer.

Die polisie se ‘Reclaim the loot’-operasie in Gauteng het die volgende vermoedelik gesteelde items teruggevind:

Elektriese ware (stowe, yskaste, vrieskaste ens.): 1 889
Ander items ( meubels, gereedskap, boumateriaal): 3 096
Voertuie, motorfietse en onderdele: 290
Kontant: R187 985
Drank: 12 500 liter
Vinnige en doeltreffende samewerking tussen alle veiligheidsektore is van uiterste belang om toekomstige onluste en plundery af te weer en seker te maak dat landsburgers beskerm word.

Die VF Plus sal voortgesette druk op die polisiekommissaris plaas om voorkomend op te tree en nie soos met die onlangse onluste onkant betrap te word nie.



KobusHoffmanGautengPolisieOnluste#GautengUnrest

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!