Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid moet eerlik wees oor probleme waarmee polisie te kampe het

2019-10-17
Kobus Hoffman

Die VF Plus bevraagteken die teenstrydige antwoorde van die Gautengse LUR vir gemeenskapsveiligheid, Sizakele Nkosi Malobane, en die Gautengse polisiekommissaris, lt.-genl. Elias Mawela, op ‘n vraag van die party oor die bevoegdheid van polisiebeamtes om vuurwapens te dra. 

Die VF Plus het onlangs ‘n vraag aan die LUR en polisiekommissaris gerig oor hoe die tekort aan ammunisie die opleiding van polisielede en die aflê van hul bevoegdheid-skietkursusse beïnvloed.

Lt.genl. Mawela het ten tyde van ‘n komiteevergadering van die portefeuljekomitee vir gemeenskapsveiligheid aangedui dat slegs 38% van polisielede hul bevoegdheid-skietkursusse geslaag het. LUR Malobane het in haar antwoord aangedui die syfer is so hoog as 95%.

Malobane se antwoord strook nie met ‘n groep stasiebevelvoerders wat tydens ‘n oorsigbesoek van die Gautengse gemeenskapveiligheidskomitee hul misnoeë en kommer uitgespreek het oor die tekort aan ammunisie wat hul operasionele planne negatief beïnvloed nie.

Dit sal Malobane loon om eerlik te wees oor die probleme wat die polisie verhinder om die Gautengse gemeenskappe te beveilig en eerder met oplossings vorendag te kom om die polisie by te staan.


Kontaknommer: 066 010 1066

KobusHoffmanPolisie

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!