Die VF Plus sal die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, Mbali Hlope, hou by haar belofte dat alle geregistreerde kinderhuise in die provinsie teen Vrydag hul subsidies sal ontvang.
Hlope het dié belofte Maandag gemaak op ʼn vraag van die VF Plus tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die Gautengse wetgewer.
Die party wou weet watter kinderhuise vir toelaes kwalifiseer en wie dit al ontvang het.
Hlope het in haar antwoord bevestig dat daar 155 kinderhuise en versorgingsoorde vir kinders in Gauteng is waarvan 104 geregistreer is.
Uit die 104 het 77 reeds hul subsidie ontvang en die oorblywende 27 sal volgens haar Vrydag hul subsidie ontvang.
Die VF Plus het die Gautengse premier, Panyaza Lesufi, se aankondiging vroeër vanjaar dat nieregeringsorganisasies se subsidies weggeneem gaan word, sterk veroordeel.
Die Gautengse regering het ʼn verantwoordelikheid teenoor kinders in nood asook diegene wat verantwoordelik is vir hul versorging.
Dit is dus uiters noodsaaklik dat subsidies so spoedig moontlik uitbetaal moet word.
Die VF Plus sal aanhou druk uitoefen op die LUR en haar departement om haar belofte gestand te doen.