Gautengse gesondheidsdepartement is ‘n skandalige ANC-instelling

2021-06-17
Adv Anton Alberts

(Begrotingsdebat in Gauteng-wetgewer oor departement van gesondheid)

Die VF Plus het dit vandag aan die Gautengse ANC-regering gestel dat die departement van gesondheid 'n skandalige ANC-instelling is weens die omvang van Covid-19-tenderbedrog met die aanskaffing van beskermende toerusting.

Wat die bedrog vererger, is die feit dat die fondse geoormerk was om die armstes teen die Covid-19-pandemie te beskerm. In hierdie konteks is 'n begroting op sigself sinloos, omdat dit nie na behore uitgevoer word nie.

Die VF Plus vind dit ook uiters kommerwekkend dat die gesondheidsdepartement geen lesse geleer het uit die vorige twee vlae van Covid-19 nie.

Noudat die derde vlaag in Gauteng in volle swang is, word dit duidelik dat die departement nie na behore voorbereid is nie. Dit lyk of daar te min beddens beskikbaar gaan wees weens probleme by verskeie hospitale.

Onlangs het die Steve Biko-hospitaal geen water gehad nie, wat wel herstel is nadat die VF Plus daar ingegryp het. Daar is egter steeds watertekorte by die Helen Joseph- en Rahim Moosa-hospitale. Verder is die Charlotte Maxeke-hospitaal steeds toe weens 'n brand wat daar ontstaan het.

Terwyl die VF Plus vertrou dat die pandemie uiteindelik sal verdwyn, het die party nie hoop oor die gesondheidsdepartement se vermoë terwyl die ANC in beheer daarvan bly nie.

 

GautengGesondheidAdvAntonAlbertsCovid19Tenderbedrog

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!