Gautengse aansuiweringsbegroting wasig oor befondsing van e-tolskulde

2022-11-24
Adv Anton Alberts

Die VF Plus beskou Gauteng se provinsiale aansuiweringsbegroting as 'n wasige voorlegging wat nie veel sê oor die provinsie se befondsing van die e-tolskulde wat oorgeneem moet word nie.

Dit is kommerwekkend dat geen duidelikheid geskep is oor hoe presies die Gautengse regering die e-tolskulde gaan finansier nie.

Indien die Gautengse regering ernstig was oor die afskaffing van die e-tolstelsel, sou hy gesorg het dat die nasionale tesourie die totale e-tolskuld oorneem en nie 'n verdere las plaas op die belangrikste ekonomiese provinsie in die land nie.

Luidens die mediumtermyn-begrotingsraamwerk het die minister van finansies, Enoch Godongwana, uiteengesit dat Gauteng 30% van Sanral se e-tolskulde moet oorneem. Die nasionale tesourie sal 70% van die e-tolskulde oorneem.

Dit beteken dat die Gautengse regering verantwoordelik is vir die betaling van 'n bedrag van R12,9 miljard. Dit is 'n enorme ekstra skuldlas vir 'n provinsiale regering wat nie veel inkomstebronne van sy eie het nie.

Die Gautengse LUR vir finansies, Jacob Mamobolo, het aangedui dat hieroor onderhandel gaan word en dat 'n hibriede finansiële model in die vooruitsig gestel word. Hy het dit verder gestel dat nuwe bronne van inkomste gevind sal word sonder dat 'n verdere finansiële las op die inwoners van Gauteng geplaas gaan word.

Daarby het hy aangedui dat die betaling van die skuldlas oor 'n lang tydperk sal geskied.

Die vraag is egter of ekstra inkomste verkry kan word uit die skaars inkomstebronne waaroor die provinsie beskik, soos drank- en dobbellisensies.

Die VF Plus is van mening dat die Gautengse regering in die haas om e-tol af te skaf, 'n groter probleem vir homself geskep het wat dienslewering negatief kan beïnvloed.

Die ANC-regering se opportunisme belas nou die provinsie met 'n skuld wat selfs 20 jaar kan neem om af te betaal.

Verder is daar ook twyfel oor wat die werklike omvang van die e-tolskulde is.

Voorheen het Sanral aangedui dat dit R20 miljard gekos het om die e-tolstelsel te implementeer, maar die totale skuld beloop nou R45 936 miljard.

Die VF Plus gaan vrae hieroor in die wetgewer stel om te sorg dat die provinsie nie skuld oorneem wat nie korrek is nie.

Die VF Plus verwerp die oplossing wat die ANC-regering aanbied om die e-tolstelsel af te skaf en sal aanhou stry om 'n billike oplossing te vind vir 'n stelsel wat nooit moes bestaan het nie.

GautengAntonAlbertsANC#e-tolstelsel

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!