(Debat in Gauteng-wetgewer oor provinsiale mediumtermyn-aansuiweringsbegroting)
Die aansuiweringsbegroting wat die Gautengse LUR vir finansies, Nomantu Nkomo-Ralehoko, vandag in die Gautengse wetgewer voorgelê het, bevat geen substantiewe maatreëls om die skade van Covid-19 te herstel nie.
Die begroting is trouens 'n blote voortsetting van vorige pogings wat nie werklik 'n duik in die werkloosheidskrisis kon maak nie. Dit lei geen twyfel nie dat die ANC nie die ekonomiese krisis waarin die provinsie tans verkeer, ernstig opneem nie en die VF Plus sal daardie argument sterk stel in aanstaande week se begrotingsdebat.
Nkomo-Ralehoko het weer melding gemaak hoe die pandemie 'n geleentheid daarstel om die ekonomie op 'n nuwe pad te plaas in lyn met vorige uitsprake dat die huidige gesondheidskrisis 'n platform skep vir ekonomiese transformasie.
Die VF Plus vind dit skreiend dat die ANC meer daarin belang stel om transformasie te bevorder wat bewysbaar nie ekonomiese groei skep nie, eerder as om aandag te skenk aan beleid wat die ekonomie vir almal sal laat gedy.
Buiten vir die verdere ontwikkeling van die spesiale ekonomiese sones in die provinsie wat nie werklik talryke nuwe werksgeleenthede skep nie, het die LUR aangekondig dat werkskepping sal plaasvind deur die Tshepo 1 miljoen-program en die uitgebreide openbare werkeprogram (EPWP).
Die probleem is dat laasgenoemde twee programme slegs tydelike werk skep en nie die endemiese strukturele oorsake van werkloosheid aanspreek nie.
Daarby beplan die provinsiale regering massa-indiensneming in die openbare sektor. Die VF Plus beskou dit as 'n fatale skuif wat die uiteindelike fiskale ineenstorting wat op ons wag, net sal verhaas.
Die LUR se aankondiging dat die premier 'n omgewing wil skep wat beleggings sal trek is 'n positiewe geluid in 'n andersins droewige begroting.
Die VF Plus sal seker maak dat die premier, David Makhura, kennis neem daarvan dat die ANC sal moet afsien van talle van sy vernietigende beleidsopsies om dit te vermag.