Gauteng se gesondheidsdepartement moet nou op vermiste Esidimeni-pasiënte fokus

2019-12-06
Me. Amanda de Lange

Die Vryheidsfront Plus het vandeesweek tydens ‘n sitting van die Gautengse wetgewer gevra dat die departement van gesondheid nou daarop fokus om die vermiste Life Esidimeni-pasiënte op te spoor wat weerloos in die strate van Randfontein en Krugersdorp ronddwaal.

Die VF Plus het twee jaar gelede reeds met navorsing begin rondom voormalige Esidimeni-pasiënte wat in die oorplasingsproses verlore geraak het en nie deur die departement van gesondheid opgespoor kon word nie.

Dit blyk dat heelwat ‘verlore’ pasiënte in die strate van Randfontein en Krugersdorp bly. Een vroulike pasiënt woon al langer as ‘n jaar langs ‘n vulstasie in die hoofstraat van Randfontein. Sy is totaal afhanklik van die barmhartigheid van motoriste wat daar verbyry.

In nog gevalle waarvan die VF Plus bewus is, dwaal ‘n man doelloos rond in die strate van Tarlton buite Krugersdorp en nog 'n vrou slaap in die strate van dié dorp. Haar enigste besittings is 'n ou kombers en ‘n plastieksakkie met klere.

Albei is totaal onsamehangend en sê hulle weier 'om terug te gaan' (na Life Esidimeni). ʼn Persoon wat die man ken het bevestig dat hy ‘n pasiënt by Life Esidimeni was.

Sowat 1 400 pasiënte is in 2016 op aanbeveling van die voormalige LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, van die Life Esidimeni-psigiatriese hospitaal in Randfontein na onbefondsde nie-staatsinstellings regoor Gauteng oorgeplaas.

Die stap is geneem om koste te bespaar. Meer as ʼn honderd pasiënte het tydens hul verblyf in die nie-staatsinstellings aan wanvoeding, mediese verwaarlosing en onvoldoende gespesialiseerde psigiatriese sorg gesterf.

Die Gauteng-regering het verlede jaar na raming R47 miljoen aan die arbitrasie-verhoor bestee waar familielede en Mahlangu getuig het. Dié kostes sluit in R15,7 miljoen vir alternatiewe dispuutverhore, R8,4 miljoen vir die huur van die Emoyeni-konferensiesentrum, R2 miljoen vir radio- en koerantadvertensies, R1,8 miljoen aan prokureurskoste, R1,1 miljoen aan vervoerkoste vir familielede wat die verhore bygewoon het, R639 000 vir vertaalwerk en R423 000 aan elektroniese opnames.

Die VF Plus het baie empatie met die families van die Esidimeni-pasiënte wat hulle lewens in die tragedie verloor het, maar oud-pasiënte wat in die strate ronddwaal, moet dringend opgespoor en in ʼn veilige hawe geplaas word.

Die party sal aanhou druk op die Gautengse departement van gesondheid plaas om 'verlore' pasiënte op te spoor en in ʼn veilige hawe te plaas waar gesondheidsorg beskikbaar is. Hulle verdien om met waardigheid behandel te word.


Kontaknommer : 071 604 9498

GautengAmandaDeLangeLifeEsidimeni

Het jy dit interessant gevind? Deel dit!